Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:26-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Vir hom was die smaad wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ’n groter rykdom as die skatte van Egipte. Hy het immers uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee.

27. Omdat hy geglo het, het Moses Egipte verlaat sonder om hom deur die woede van die koning te laat afskrik. Hy het volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou.

28. Omdat Moses geglo het, het hy die Paasfees ingestel en bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die doodsengel nie die Israeliete se oudste seuns sou tref nie.

29. Omdat hulle geglo het, het die Israeliete deur die Rooisee getrek soos op droë grond. Maar toe die Egiptenaars dit ook probeer het, het hulle verdrink.

30. Omdat die Israeliete geglo het, het hulle vir sewe dae om Jerigo marsjeer en sy mure het ineengestort.

31. Omdat sy geglo het, het Ragab die prostituut die spioene vriendelik ontvang en nie saam met die mense van haar stad, wat aan God ongehoorsaam was, gesterf nie.

32. Wat meer moet ek nog sê? Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van die geloof van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.

33. Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop,

34. die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan.

35. Vroue het selfs hulle geliefdes uit die dood terugontvang. Ander weer is gemartel, maar wou nie die prys vir hulle vrylating betaal nie omdat hulle die opstanding tot ’n beter lewe wou verkry.

36. Party moes bespotting en géseling verduur, ook arrestasie en gevangenskap.

37. Hulle is met klippe doodgegooi, in twee gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgegaan in skaapvelle en bokvelle, honger en verdruk en mishandel.

38. Hulle was te goed vir hierdie wêreld; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge in grotte geskuil en in gate in die grond.

39. En alhoewel daar oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig is, het nie een van hulle ten volle verkry wat God beloof het nie.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11