Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:9-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. “Hierdie seuns van Jakob was jaloers op hulle broer Josef, en hulle het hom verkoop om ’n slaaf in Egipte te wees. Maar God was by hom

10. en het hom uit al sy swaarkry gered. God het gemaak dat Farao, die koning van Egipte, van hom hou. God het ook besondere wysheid aan Josef gegee sodat Farao hom as onderkoning oor Egipte en as hoof van sy hele huishouding aangestel het.

11. “Toe het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Ons voorouers het baie swaar gehad, want hulle kos het opgeraak.

12. “Toe Jakob hoor dat daar in Egipte koring is, het hy sy seuns gestuur om daarvan te gaan koop.

13. Op hulle tweede besoek het Josef sy ware identiteit aan sy broers bekendgemaak, en hulle aan Farao voorgestel.

14. Josef het sy pa, Jakob, en sy hele familie laat haal, altesaam 75 mense.

15. So is Jakob Egipte toe. Hy is daar dood, en ook al sy seuns.

16. Hulle is na Sigem toe gebring en begrawe in die grafgrot wat Abraham daar met geld by die seuns van Hemor gekoop het.

17. “Soos die tyd dat God sy belofte aan Abraham sou vervul, nadergekom het, het ons volk in Egipte tot ’n groot getal aangegroei.

18. ’n Nuwe koning, wat niks van Josef geweet het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom.

19. Hierdie koning het ’n slinkse plan teen ons mense beraam en ons voorouers verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat sodat hulle sou sterf.

20. “In dié tyd is Moses gebore, en hy was besonder mooi. Sy ouers het hom drie maande lank tuis versorg.

21. Toe hulle hom uiteindelik buite aan sy lot moes oorlaat, het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7