Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:6-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Annas die hoofpriester was daar, asook Kajafas, Johannes, Aleksander en ander familielede van die hoofpriester.

7. Hulle het die twee apostels voor hulle laat bring en hulle onder druk gesit met die vraag: “Deur watter krag en in watter naam het julle dit reggekry?”

8. Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers en familiehoofde van ons volk,

9. word ons vandag verhoor oor ’n goeie daad aan ’n verlamde man? Wil julle weet hoe hy gesond gemaak is?

10. Ek wil dit duidelik stel aan julle almal en aan die hele volk Israel dat hy gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, dié Jesus vir wie júlle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.

11. Hy is:‘Dié klip wat deur julle bouers geminag is;Hý het nou die sluitklip geword.’

12. “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”

13. Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was.

14. Maar omdat die man wat gesond gemaak is, daar reg by hulle gestaan het, het die raadslede niks gehad om te sê nie.

15. Daarom het hulle Petrus en Johannes uit die raadsaal gestuur en die saak met mekaar bespreek.

16. “Wat gaan ons met hierdie mans aanvang?” het hulle gevra. “Dit is vir almal wat in Jerusalem woon, duidelik dat ’n onmiskenbare teken deur hulle plaasgevind het, en ook ons kan dit nie ontken nie.

17. Maar om te keer dat dit nog verder onder die volk versprei, kom ons dreig hulle om nie weer met iemand in die Naam van Jesus te praat nie.”

18. Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie.

19. Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom?

20. “Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.”

21. Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelik het hulle hulle egter laat gaan, want hulle het nie geweet hoe om hulle te straf sonder om ’n volksopstand te veroorsaak nie. Almal was inderdaad besig om God te prys

22. vir die wonderteken – ’n man wat al oor die 40 jaar verlam was, is immers gesond gemaak!

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4