Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesterhoofde, die bevelvoerder van die tempelwag en sommige van die Sadduseërs op hulle afstorm.

2. Hulle was baie ontsteld omdat Petrus en Johannes die volk geleer het en die opstanding uit die dood in Jesus verkondig het.

3. Die tempelwag het hulle gearresteer, en omdat dit al laat was, hulle oornag in die tronk gesit.

4. Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000.

5. Die volgende môre het die priesterhoofde, die leiers, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergadering gehou.

6. Annas die hoofpriester was daar, asook Kajafas, Johannes, Aleksander en ander familielede van die hoofpriester.

7. Hulle het die twee apostels voor hulle laat bring en hulle onder druk gesit met die vraag: “Deur watter krag en in watter naam het julle dit reggekry?”

8. Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers en familiehoofde van ons volk,

9. word ons vandag verhoor oor ’n goeie daad aan ’n verlamde man? Wil julle weet hoe hy gesond gemaak is?

10. Ek wil dit duidelik stel aan julle almal en aan die hele volk Israel dat hy gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, dié Jesus vir wie júlle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4