Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 3:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Petrus en Johannes was een middag op pad tempel toe. Dit was drie-uur, die gebedstyd.

2. Net tóé word daar ’n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit by die tempelpoort wat as Mooipoort bekend staan, om by die tempelgangers te bedel.

3. Petrus en Johannes wou net in die tempel ingaan, toe hy hulle sien en ’n bydrae by hulle vra.

4. Petrus kyk hom toe saam met Johannes stip aan, en sê: “Kyk na ons!”

5. Die verlamde man kyk toe na hulle in die verwagting dat hy ’n bydrae gaan kry.

6. Maar Petrus sê: “Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

7. Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword.

8. Hy het opgespring, op sy voete gestaan, en begin rondstap. Daarna, terwyl hy rondstap, huppel en God prys, is hy saam met hulle die tempel in.

9. Die hele volk het gesien hoe hy loop en gehoor hoe hy God prys.

10. Toe hulle hom eien en besef dat dit hý is wat voor die tempel by Mooipoort gesit en bedel het, was hulle heeltemal verstom.

11. Hulle het van verwondering by die Pilaargang van Salomo saamgedrom terwyl die man gesorg het dat hy bý Petrus en Johannes bly.

12. Toe Petrus dit agterkom, het hy soos volg op die mense gereageer: “Geagte Israeliete, wat is so besonders hieraan? Wat kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsdienstigheid veroorsaak het dat hierdie man kan rondstap?

13. “Dis die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders wat met hierdie daad Goddelike eer aan Jesus, sy Dienaar, gee. Dis hierdie selfde Jesus vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het, al was Pilatus se uitspraak dat Hy vrygelaat moes word.

14. Julle het hierdie heilige en opregte man verwerp, en eerder geëis dat ’n moordenaar vir julle vrygelaat word.

15. Julle het die Bron van lewe doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek! Van Hóm is óns getuies!

Lees volledige hoofstuk Handelinge 3