Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 25:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af opgegaan Jerusalem toe.

2. Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het toe ’n verslag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het ’n beroep op hom gedoen

3. en van hom die guns gevra om Paulus Jerusalem toe te laat kom. (Hulle het ’n hinderlaag beplan om hom op pad permanent uit die weg te ruim.)

4. Festus het egter geantwoord dat Paulus in Sesarea aangehou word, en dat hy self van plan was om binnekort daarheen terug te vertrek.

5. “Dié onder julle,” het hy gesê, “wat die bevoegdheid daartoe het, kan dan saam met my gaan. As die man iets onwettigs begaan het, kan julle hom aankla.”

6. Hy het ongeveer agt dae, hoogstens tien, in Jerusalem deurgebring en toe afgegaan Sesarea toe. Die volgende dag het hy gereël dat die hof sit en Paulus laat haal.

7. Toe Paulus in die hof verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van ’n hele klomp ernstige dinge beskuldig. Hulle kon egter niks bewys nie.

8. Paulus het hom toe verdedig: “Ek het niks teen die Joodse wet of die tempel of die keiser oortree nie.”

9. Maar Festus wou iets vir die Jode doen en sê toe vir Paulus: “Wil jy opgaan Jerusalem toe en dáár voor my oor hierdie dinge verhoor word?”

10. Paulus antwoord hom: “Nee! Voor die keiserlike regbank staan ek tereg. Dít is waar ek verhoor moet word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed.

11. As ek skuldig is en dinge gedoen het wat die dood verdien, probeer ek die dood nie ontduik nie. Aangesien alles waarvan hulle my beskuldig egter blote versinsels is, kan niemand my sommer maar net aan hulle uitlewer nie. Ek appelleer na die keiser!”

12. Festus het die saak met sy raad bespreek en toe geantwoord: “Jy het na die keiser geappelleer; na die keiser toe sal jy gaan!”

13. ’n Paar dae later het koning Agrippa en Bernice in Sesarea aangekom om Festus te verwelkom.

14. Hulle het ’n hele paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak met die koning bespreek: “Hier is ’n gevangene wie se verhoor Feliks ná sy vertrek aan my oorgelaat het.

15. By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode my oor hom ingelig en van my ’n skuldigbevinding teen hom gevra.

16. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om iemand sommer net as guns uit te lewer nie. Die beskuldigde moet eers geleentheid kry om homself persoonlik in die teenwoordigheid van sy aanklaers te verdedig.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 25