Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:13-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Meer as 40 mense het só saamgesweer.

14. Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het ons met ’n eed verbind om nie aan iets te proe totdat ons Paulus dood het nie.

15. Julle en die Joodse Raad moet die offisier oor duisend man laat weet dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom voor sy aankoms permanent uit die weg te ruim.”

16. Paulus se susterskind het egter gehoor van die hinderlaag. Hy is na die kaserne toe en het by die barakke ingekom en Paulus ingelig.

17. Paulus roep toe een van die offisiere oor honderd man en sê vir hom: “Vat hierdie jong man na die offisier oor duisend man toe, want hy het iets om aan hom te rapporteer.”

18. Hy vat hom toe na die offisier oor duisend man toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my geroep en my gevra om hierdie jong man na u toe te bring omdat hy iets het om aan u te rapporteer.”

19. Die offisier vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant toe en vra vir hom: “Wat is dit wat jy aan my wil rapporteer?”

20. Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, kwansuis om sy saak noukeuriger te ondersoek.

21. U moet u nie deur hulle laat oorreed nie, want meer as 40 mans uit hulle geledere lê hom voor om hom te vermoor. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom permanent uit die weg geruim het nie. Hulle is gereed en wag nou net vir instemming van u kant af.”

22. Die offisier het hom toe dié opdrag gegee: “Moenie vir iemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.” En hy het die jong man laat gaan.

23. Die offisier oor duisend man het toe twee van die offisiere oor honderd man geroep en hulle beveel: “Maak 200 soldate, 70 perderuiters en 200 spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand Sesarea toe te vertrek.

24. Sorg dat daar rydiere vir Paulus is, en bring hom veilig by goewerneur Feliks.”

25. Toe skryf hy hierdie brief:

26. Claudius Lisias skryf aan die hooggeagte goewerneur Feliks. Groete!

27. Hierdie man is deur die Jode gearresteer en hulle was op die punt om hom te vermoor toe ek met my eenheid ingegryp het. Omdat ek agtergekom het dat hy ’n Romeinse burger is, het ek hom in beskerming geneem.

28. Ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, en het hom daarom voor hulle Raad gebring.

29. Ek het bevind dat die klag gaan oor twispunte in verband met hulle wet, verseker nie ’n klag wat die dood of tronkstraf verdien nie.

30. Toe ek verneem het daar is ’n komplot teen die man, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Sy aanklaers het ek aangesê om hulle klagte teen hom aan u voor te lê.

31. Die soldate het ooreenkomstig hulle opdrag vir Paulus gevat en hom dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23