Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 20:17-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Maar Paulus het van Milete af ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te ontbied.

18. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Júlle weet dat ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het,

19. die Here met my hele wese in alle nederigheid gedien het, en dat dit met trane gepaardgegaan het. Dan was daar ook die beproewings wat oor my gekom het vanweë die komplotte van sommige Jode.

20. Julle weet ook dat ek nooit weggeskram het van die waarheid toe ek by julle gepreek en julle in die openbaar en in julle huise onderrig het nie.

21. Ek het één boodskap vir Jode én Grieke gehad: dat hulle hulle tot God moet bekeer en in ons Here Jesus moet glo.

22. “En nou is ek op pad Jerusalem toe, gebind deur die Gees. Wat dáár met my gaan gebeur, weet ek nie.

23. Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê.

24. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien.

25. “En nou is dit duidelik: Ek weet dat nie een van julle my weer sal sien nie – julle onder wie ek rondgegaan en die koningsheerskappy van God verkondig het.

26. Daarom stel ek dit vandag duidelik aan julle dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie,

27. want ek het nie weggeskram daarvan om die volle plan van God aan julle te verkondig nie.

28. “Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het. Julle moet as herders die kerk van God versorg, dié kerk wat Hy vir Hom verkry het deurdat sy eie Seun gesterf het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 20