hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op pad na Jerusalem reis

Paulus deur Griekeland en

Masedonië

1. Met die betoging verby, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek.

2. Op sy reis daarheen het hy die gelowiges met baie preke bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan

3. waar hy drie maande deurgebring het. Toe hy op die punt gestaan het om Sirië toe te vaar, het ’n komplot teen hom aan die lig gekom. Hy het toe besluit om landlangs deur Masedonië na Sirië toe terug te gaan.

4. Heelwat mans het saam met Paulus gereis. Hulle was Pirrus se seun Sopater van Berea, Aristargus en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, Timoteus, en Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië.

5. Hulle het vooruit gegaan en in Troas vir ons gewag.

6. Na die Pasga het ons per skip van Filippi af vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons ’n week gebly.

Paulus vier die maaltyd van die

Here saam met die gemeente in

Troas

7. Ons het die Sondag bymekaargekom vir die maaltyd van die Here. Paulus het ’n bespreking met hulle gehou, en omdat hy die volgende dag wou vertrek, het hy tot middernag aanhou praat.

8. Daar was taamlik baie lampe in die bovertrek waar ons vergader het.

9. Terwyl Paulus aanhou en aanhou met die bespreking, het ’n jong man met die naam Eutigus, wat op die vensterbank gesit het, in ’n diep slaap begin wegsink. Vas aan die slaap het hy uit die derde verdieping tot onder geval. Hulle het hom as ’n lyk opgetel.

10. Paulus het ondertoe gegaan, op Eutigus gaan lê, sy arms om hom gesit en gesê: “Moenie julle ontstel nie. Hy lewe!”

11. Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog ’n hele ruk met hulle gepraat, tot dagbreek toe, en toe vertrek.

12. Die mense het die seun lewend huis toe gevat. Dit was vir hulle ’n buitengewoon bemoedigende ervaring.

Paulus rig vir oulaas ’n ernstige

woord tot die ouderlinge van

Efese

13. Paulus is landlangs Assus toe, maar ons is vooruit na die skip toe en het na Assus gevaar, waar Paulus afgespreek het dat hy aan boord sou gaan.

14. Hy het ons daar gekry; ons het hom aan boord geneem en Mitilene toe gevaar.

15. Die volgende dag het ons by Chios verbygevaar. Die dag daarna het ons by Samos aangedoen, en nog ’n dag later het ons Milete bereik.

16. Paulus het reeds voorheen besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie nog langer in die provinsie Asië tyd hoef deur te bring nie. Hy was haastig om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees.

17. Maar Paulus het van Milete af ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te ontbied.

18. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Júlle weet dat ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het,

19. die Here met my hele wese in alle nederigheid gedien het, en dat dit met trane gepaardgegaan het. Dan was daar ook die beproewings wat oor my gekom het vanweë die komplotte van sommige Jode.

20. Julle weet ook dat ek nooit weggeskram het van die waarheid toe ek by julle gepreek en julle in die openbaar en in julle huise onderrig het nie.

21. Ek het één boodskap vir Jode én Grieke gehad: dat hulle hulle tot God moet bekeer en in ons Here Jesus moet glo.

22. “En nou is ek op pad Jerusalem toe, gebind deur die Gees. Wat dáár met my gaan gebeur, weet ek nie.

23. Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê.

24. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien.

25. “En nou is dit duidelik: Ek weet dat nie een van julle my weer sal sien nie – julle onder wie ek rondgegaan en die koningsheerskappy van God verkondig het.

26. Daarom stel ek dit vandag duidelik aan julle dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie,

27. want ek het nie weggeskram daarvan om die volle plan van God aan julle te verkondig nie.

28. “Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het. Julle moet as herders die kerk van God versorg, dié kerk wat Hy vir Hom verkry het deurdat sy eie Seun gesterf het.

29. Self weet ek dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie spaar nie.

30. Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg.

31. Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane.

32. “En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die genade wat Hy aan mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het.

33. “Ek het niemand se silwer of goud of klere begeer nie.

34. Julle weet self dat hierdie twee hande van my voorsien het in my behoeftes en in die behoeftes van dié wat saam met my was.

35. In alles het ek vir julle ’n voorbeeld gestel dat ons só hard moet werk dat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’”

36. Toe Paulus klaar gepraat het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid.

37. Almal het baie gehuil en Paulus omhels en hom gesoen.

38. Hulle was veral hartseer oor sy stelling dat hulle hom nie weer sou sien nie. Toe het hulle hom skip toe gevat.