Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 20:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hy het ons daar gekry; ons het hom aan boord geneem en Mitilene toe gevaar.

15. Die volgende dag het ons by Chios verbygevaar. Die dag daarna het ons by Samos aangedoen, en nog ’n dag later het ons Milete bereik.

16. Paulus het reeds voorheen besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie nog langer in die provinsie Asië tyd hoef deur te bring nie. Hy was haastig om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees.

17. Maar Paulus het van Milete af ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te ontbied.

18. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Júlle weet dat ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het,

19. die Here met my hele wese in alle nederigheid gedien het, en dat dit met trane gepaardgegaan het. Dan was daar ook die beproewings wat oor my gekom het vanweë die komplotte van sommige Jode.

20. Julle weet ook dat ek nooit weggeskram het van die waarheid toe ek by julle gepreek en julle in die openbaar en in julle huise onderrig het nie.

21. Ek het één boodskap vir Jode én Grieke gehad: dat hulle hulle tot God moet bekeer en in ons Here Jesus moet glo.

22. “En nou is ek op pad Jerusalem toe, gebind deur die Gees. Wat dáár met my gaan gebeur, weet ek nie.

23. Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 20