Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:6-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om mekaar in die oë te kyk oor hierdie vraagstuk.

7. Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Geagte broers, julle weet dat God my van die vroeë dae af al uit julle geledere gekies het om deur my prediking die nie-Jode die Goeie Nuus te laat hoor en tot geloof te laat kom.

8. En God, wat die harte ken, het bevestig dat die Goeie Nuus ook vir nie-Jode bedoel is deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan ons.

9. Hy het dus geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.

10. Waarom wil julle dan nou beter as God weet deur op die nek van die nie-Joodse gelowiges ’n juk te lê wat ons voorgeslagte nie in staat was om te dra nie en ons ook nie?

11. Nee! Ons glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus verlos word – en dit geld ook vir daardie mense.”

12. Daar was geen verdere bespreking nie en almal het vervolgens gesit en luister hoe Barnabas en Paulus vertel watter tekens en wonders God deur hulle onder die nie-Jode gedoen het.

13. Toe hulle stilbly, het Jakobus gesê: “Geagte broers, luister na my.

14. Simon het verduidelik hoe dit God self is wat die inisiatief geneem het deur vir Hom ’n volk uit die geledere van die nie-Jode te versamel.

15. En hiermee stem die woorde van die profete saam. Daar staan geskrywe:

16. ‘Daarna sal Ek terugkom,en Ek sal die vervalle huisvan Dawid weer opbou.Ek sal sy bouvalle herstel,en dit weer regmaak

17. sodat ook die ander volkedie Here kan soek,ja, al die nie-Joodse nasiesoor wie Ek my Naam uitgeroep het.So sê die Here wat hierdie dinge

18. lank gelede al bekendgemaak het.’

19. “Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die gelowiges wat hulle uit die geledere van die nie-Jode tot God bekeer het nie.

20. Ons moet egter vir hulle skryf om weg te bly van dinge wat deur afgode besoedel is, van seksuele sondes, asook van iets wat verwurg is, en van bloed.

21. Julle weet mos: Moses het in elke stad al vir geslagte lank mense wat sy voorskrifte verkondig; elke Sabbatdag word sy boeke in die sinagoges voorgelees.”

22. Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente in Jerusalem besluit om ’n afvaardiging uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië in Sirië te stuur. Hulle het twee leiersfigure onder die gelowiges gekies: vir Judas (sy noemnaam is Barsabbas) en vir Silas.

23. Die vergadering het die volgende brief self geskryf:Hierdie brief kom van die apostels en die ouderlinge, julle broers in Jerusalem, en is geskryf aan die gelowiges uit die nie-Joodse volke in Antiogië, Sirië en Silisië. Groete!

24. Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle gemoedere ontstel het met standpunte waarvoor ons hulle nie ’n mandaat gegee het nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15