Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges probeer wysmaak: “As julle julle nie laat besny soos Moses dit voorskryf nie, kan julle nie verlos word nie.”

2. Paulus en Barnabas het hulle daarteen verset en in ’n taamlik ernstige meningsverskil met hulle betrokke geraak. Uiteindelik het hulle besluit dat Paulus en Barnabas en nog ’n paar ander uit hulle geledere oor hierdie vraagstuk na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan.

3. So is hulle deur die gemeente uitgestuur. Hulle het deur Fenisië en Samaria gereis en vertel van die bekering van die nie-Jode. Met hierdie nuus het hulle al die gelowiges baie bly gemaak.

4. Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die hele gemeente, insluitend die apostels en die ouderlinge, verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle bediening tot stand gebring het.

5. Sommige van dié wat gelowiges geword het uit die geledere van die Fariseërs, het egter opgestaan en verklaar: “Nie-Joodse bekeerlinge moet besny word en die opdrag kry om die wet van Moses te onderhou.”

6. Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om mekaar in die oë te kyk oor hierdie vraagstuk.

7. Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Geagte broers, julle weet dat God my van die vroeë dae af al uit julle geledere gekies het om deur my prediking die nie-Jode die Goeie Nuus te laat hoor en tot geloof te laat kom.

8. En God, wat die harte ken, het bevestig dat die Goeie Nuus ook vir nie-Jode bedoel is deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan ons.

9. Hy het dus geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.

10. Waarom wil julle dan nou beter as God weet deur op die nek van die nie-Joodse gelowiges ’n juk te lê wat ons voorgeslagte nie in staat was om te dra nie en ons ook nie?

11. Nee! Ons glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus verlos word – en dit geld ook vir daardie mense.”

12. Daar was geen verdere bespreking nie en almal het vervolgens gesit en luister hoe Barnabas en Paulus vertel watter tekens en wonders God deur hulle onder die nie-Jode gedoen het.

13. Toe hulle stilbly, het Jakobus gesê: “Geagte broers, luister na my.

14. Simon het verduidelik hoe dit God self is wat die inisiatief geneem het deur vir Hom ’n volk uit die geledere van die nie-Jode te versamel.

15. En hiermee stem die woorde van die profete saam. Daar staan geskrywe:

16. ‘Daarna sal Ek terugkom,en Ek sal die vervalle huisvan Dawid weer opbou.Ek sal sy bouvalle herstel,en dit weer regmaak

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15