Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 3:18-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. As wetsgehoorsaamheid ’n mens die erfenis kan laat ontvang, word dit nie meer ontvang omdat God dit beloof het nie. God het egter juis sy genade deur ’n belofte aan Abraham gegee.

19. Waarom dan die wet? Dit het bygekom met die oog op die sonde totdat die “Nakomeling” op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan Israel gegee.

20. My argument is: ’n Tussenganger is nie nodig as daar net een party is nie. En God is net één!

21. Is die wet dus in stryd met God se beloftes? Verseker nie! As daar ’n wet was wat ware lewe kon gee, sou ons inderdaad vrygespreek kon word deur daardie wet te gehoorsaam.

22. Maar die Skrif getuig die teendeel: Alles is vasgevang in die greep van sonde sodat die belofte op grond van geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee sou kon word.

23. Voordat die geloof gekom het, is ons deur die wet bewaak. Ons was gevange gehou totdat God se plan van geloof geopenbaar sou word.

24. Die wet het ons soos ’n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang.

25. Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van ’n kinderopvoeder nie.

26. Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.

27. Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal.

28. Nou is daar nie langer sprake van Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou nie; julle is tog almal één in Christus Jesus.

29. Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 3