Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 2:9-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. En toe, omdat hulle besef het dat God sy genade aan my gegee het, het Jakobus en Petrus en Johannes – hulle is as die sleutelfigure beskou – my en Barnabas die hand gegee as teken dat ons kollegas is: Ons sou na die nie-Joodse nasies gaan en hulle na die Jode.

10. Al wat hulle gevra het, was dat ons aan die armes moes dink, en juis dit het ek ywerig gedoen.

11. Toe Petrus egter na Antiogië gekom het, het ek hom openlik teengestaan omdat hy verkeerd was.

12. Voordat daar mense van Jakobus af gekom het, het hy saam met die nie-Jode geëet. Maar nadat hulle gekom het, het hy hom onttrek en hom tydens etes eenkant gehou omdat hy bang was vir wat die Joodse Christene sou sê.

13. Daarop het die ander Joodse Christene hom gevolg en selfs Barnabas het hom deur hulle skynheiligheid laat saamsleep.

14. Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê: “Hoe kan jy, wat ’n Jood is – wat egter nie meer Joods lewe nie, maar nie-Joods – die nie-Jode dwing om soos Jode te leef?”

15. Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie,

16. weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie!

17. Dit is eers as ons deur Christus God se vryspraak soek dat ons raaksien dat ons self ook sondaars is. Beteken dit nou dat Christus in diens van die sonde staan? Natuurlik nie!

18. Dis eerder ék wat van myself ’n oortreder maak. Dis nou as ek weer begin leef volgens ’n stelsel wat ek klaar verwerp het.

19. Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 2