Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 3:5-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Ek is op die agtste dag besny. Ek is ’n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin. ’n Egte Hebreër! As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe.

6. Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat wetsgehoorsaamheid betref as metode om my saak met God reg te maak, was ek onberispelik!

7. Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies.

8. Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry

9. en een met Hom kan wees. Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg.

10. Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood

11. in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef!

12. Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!

13. Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.

14. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.

15. Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê. As daar enigiets is waaroor julle anders dink, sal God ook dít vir julle duidelik maak.

16. Nietemin, laat ons aanhou loop op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.

17. Ja, broers en susters, volg my voorbeeld en hou julle oë op die mense wat volgens ons voorbeeld lewe.

18. Want – ek het julle al vroeër gesê, en met groot hartseer moet ek dit nou weer sê – daar is baie wie se lewe wys dat hulle vyande van die kruis van Christus is.

19. Ewige vernietiging is hulle uiteinde, liggaamlike behoeftes is hulle god en skandelike dinge is hulle trots. Al waaraan hulle dink, is aardse dinge.

Lees volledige hoofstuk Filippense 3