Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 2:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. My geliefdes, julle was altyd baie gehoorsaam toe ek by julle was. Noudat ek weg is, moet julle nog meer gehoorsaam wees. Vol ontsag en eerbied vir God moet julle voortgaan om aan julle verlossing gestalte te gee.

13. Dis mos God wat die gewilligheid en die vermoë in julle bewerk om te handel volgens wat Hy graag wil hê!

14. Doen alles sonder kla of teëpraat.

15. Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan. Julle sal skoon lewe in ’n wêreld vol oneerlike en perverse mense. Skyn in hierdie donker wêreld soos helder sterre

16. deur noukeurig te leef volgens die boodskap wat tot die lewe lei. Dan, wanneer Christus terugkom, sal ek tevrede wees dat ek nie verniet gejaag en geswoeg het nie.

17. Selfs al word my lewe soos ’n drankoffer uitgegiet bo-op die offer van julle gelowige diens aan God, is ek bly daaroor en wil ek saam met julle almal bly wees daaroor.

18. Laat my vreugde hieroor ook julle vreugde wees!

19. Ek hoop om, as die Here Jesus wil, binnekort vir Timoteus na julle toe te stuur. Dit sal my goeddoen as ek weet hoe dit met julle gaan.

20. Ek beskou Timoteus immers as die enigste persoon wat met ’n opregte gesindheid aan julle belange aandag sal gee.

21. Al die ander soek net hulle eie belang en nie dit wat vir Jesus Christus saak maak nie.

22. Julle weet egter hoe Timoteus homself bewys het. Soos ’n seun sy pa help, het hy saam met my gewerk om die Goeie Nuus uit te dra.

23. Ek hoop om juis hóm na julle toe te stuur sodra ek duidelikheid het oor my eie posisie.

24. Ek vertrou dat, as die Here wil, ek self ook binnekort na julle toe sal kan kom.

Lees volledige hoofstuk Filippense 2