hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Tessalonisense 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Oproep tot voorbidding

1. Ten slotte, broers en susters, bid vir ons sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en net soos by julle met eerbied ontvang word.

2. Bid ook dat ons bewaar sal word van slegte en bose mense, want nie alle mense kan vertrou word nie.

3. Maar die Here is getrou! Hy sal julle sterk maak en van die Bose bewaar.

4. Verder gee die Here ons sekerheid oor julle, dat julle dit wat ons vra, doen en sál doen.

5. Mag die Here julle hele lewe instel op God se liefde en die volharding wat Christus aan ons gee.

Gelowiges se roeping om te

werk

6. Broers en susters, ons beveel julle in die Naam van die Here Jesus Christus om julle te onttrek aan elke medegelowige wat leeglê en wat nie leef soos julle by ons geleer het nie.

7. Julle weet dat julle ons voorbeeld moet volg. Ons het tog nie by julle leeggelê

8. of bedelbrood van enigeen geëet nie. Inteendeel, ons het dag en nag hard gewerk en geswoeg om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie.

9. Nie dat ons nie op versorging aanspraak kon maak nie, maar ons wou onsself as ’n voorbeeld vir julle stel om te volg.

10. Toe ons by julle was, het ons uitdruklik vir julle gesê: As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.

11. Ons sê dit omdat ons hoor dat sommige mense leeglê; dat hulle nie werk nie en hulle met ander persone se sake bemoei.

12. In die Naam van die Here Jesus Christus beveel ons sulke mense, ja, ons druk hulle dit op die hart, dat hulle rustig hulle werk moet verrig en so hulle eie brood moet verdien.

13. En julle, broers en susters, moenie moeg word om goed te doen nie!

14. Verder, as mense nie ons opdragte in hierdie brief gehoorsaam nie, identifiseer hulle. Vermy hulle sodat hulle kan skaam kry.

15. Moet hulle egter nie as vyande behandel nie, maar wys vir hulle die regte pad aan, soos medegelowiges met mekaar maak.

Paulus se groetwoord

16. Mag die Here, die Bron van vrede, self altyd en op elke manier vir julle vrede gee. Mag die Here met julle almal wees.

17. Dié groet skryf ek met my eie hand: Van Paulus. My handskrif aan die einde van elke brief is die bewys dat ek dit self geskryf het.

18. Mag die genade van ons Here Jesus Christus met julle almal wees.