hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Tessalonisense 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Paulus, Silvanus en Timoteus. Ons skryf aan die gemeente in Tessalonika wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus verbonde is.

die gemeente in Tessalonika en

stuur ’n seëngroet

2. Mag die genade en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus met julle wees.

Julle moet onder vervolging

volhard

3. Broers en susters, dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sal sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter!

4. Gevolglik vertel ons self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur.

5. God sal die dinge wat julle deurmaak, gebruik om te wys dat Hy regverdig oordeel. Dit sal daarop uitloop dat julle waardig beskou sal word om in God se koningsheerskappy te deel. Dit is hiervoor dat julle ly.

6. God is inderdaad regverdig: Hy sal julle verdrukkers met verdrukking terugbetaal.

7. Hy sal rus gee aan julle wat verdruk word – en ook aan ons. Dit sal gebeur wanneer die Here Jesus met sy magtige engele vanuit die hemel verskyn.

8. In ’n vlammende vuur sal Hy die mense straf wat God nie ken nie; dit is húlle wat hulle nie gesteur het aan die Goeie Nuus van ons Here Jesus nie.

9. Hulle sal met ewige vernietiging gestraf word, weg van die Here se teenwoordigheid en sy heerlike mag af.

10. Op daardie dag kom Hy om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort en om bewonder te word deur almal wat tot geloof gekom het – ook deur julle, want julle het ons getuienis geglo!

11. Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle. Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het. Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring.

12. So sal die Naam van ons Here Jesus verheerlik word deur wat julle doen. En júlle sal deur Hom verheerlik word op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus.