hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie brief kom van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus, aangestel op bevel van God ons Verlosser en Christus Jesus ons hoop.

Timoteus en stuur ’n seëngroet

2. Ek skryf aan Timoteus, my ware kind in die geloof.Mag die genade, die ontferming en die vrede van God ons Vader en Christus Jesus ons Here met jou wees.

Wakkerloop vir allerlei vals

leerstellings!

3. Toe ek na Masedonië vertrek het, het ek by jou aangedring om daar in Efese te bly en dié wat vals leerstellings verkondig, te verbied.

4. Moenie dat mense tyd mors met eindelose spekulasies oor mites en geslagsregisters nie. Want hierdie dinge veroorsaak net twisgesprekke; dit bevorder nie ’n lewenspatroon van geloof in God nie.

5. Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en opregte geloof kom.

6. Maar sommige leermeesters het hiervan afgewyk en bestee hulle tyd aan argumente en verval in dwase praatjies.

7. Hulle wil bekend wees as leermeesters van die wet van Moses, maar hulle verstaan nie wat hulle sê nie.

8. Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit gebruik soos God dit bedoel het

9. en besef die wet is nie soseer gemaak vir mense wat reg optree nie, maar eerder vir mense wat ongehoorsaam en opstandig is, wat teen God is en sondig, wat niks as heilig beskou nie en dit wat heilig is, besoedel; wat hulle vader of moeder of ander mense doodmaak.

10. Die wet is vir mense wat seksueel immoreel is, vir seksuele perverte, vir slawehandelaars, vir leuenaars, eedbrekers en vir hulle wat enigiets anders doen wat die gesonde leer weerspreek –

11. dié leer wat ooreenstem met die heerlike Goeie Nuus wat aan my toevertrou is deur ons goeie God.

God se genade het my ’n

voorbeeld van sy geduld

met sondaars gemaak

12. Hoe dankbaar is ek teenoor Christus Jesus ons Here. Hy het my krag gegee en betroubaar geag om my in sy diens te stel,

13. selfs al het ek voorheen die Naam van Christus belaster. Ek het sy mense vervolg en hulle mishandel. Maar God het sy genade aan my bewys omdat ek dit uit onkunde en ongeloof gedoen het.

14. Hoe oorvloedig was die onverdiende goedheid van ons Here nie en hoe het Hy my nie oorlaai met geloof en met die liefde wat ons deel word wanneer ons aan Christus Jesus verbind word nie.

15. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, en ek was die ergste van hulle almal.

16. Maar juis daartoe was God my genadig dat Christus Jesus aan my, die ergste sondaar van almal, God se groot geduld kon illustreer en my as voorbeeld kon gebruik vir hulle wat nog sal glo en só die ewige lewe sal ontvang.

17. Aan die ewige Koning, die onsterflike, onsigbare, enigste God, die eer en die heerlikheid vir ewig en altyd. Amen.

Timoteus, hou vas aan jou

geloof in Christus!

18. Timoteus, my kind, hiermee gee ek my opdrag aan jou, gegrond op die profetiese woorde wat voorheen oor jou uitgespreek is. Mag daardie woorde jou die selfvertroue gee om goed te veg in die Here se veldslae.

19. Hou styf vas aan jou geloof, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete eenkant gestoot en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely.

20. Himeneus en Aleksander is twee voorbeelde hiervan. Ek het hulle aan Satan oorgegee sodat hulle sal leer om God nie te belaster nie.