Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 2:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger as die vals leraars is, maak nie in die Here se Naam lasterlike uitsprake teen hierdie wesens nie.

12. Hierdie mense is soos wilde diere sonder verstand, gebore om net gevang en geslag te word. Hulle spot met dinge waarvan hulle niks verstaan nie, en soos wilde diere sal hulle ook uitgeroei word.

13. Omdat hulle lewe voor God nie reg is nie, kry hulle presies dít wat hulle verdien. Vir hulle is die toppunt van plesier om helder oordag wilde partytjies te hou. As hulle by julle eet, is dit baie sleg vir julle naam, want terwyl hulle saam met julle feesvier, is dit vir hulle lekker om julle saam te vat op die paaie waarop hulle self verdwaal het.

14. Hulle pleeg egbreuk met hulle oë, en van sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense, en is goed afgerigte geldwolwe – sulke vervloektes!

15. Hulle het weggedraai van die reguit pad en verdwaal geraak. Hulle het die pad geloop van Bileam, seun van Beor, wat daarvan gehou het om vir geld verkeerde dinge te doen.

16. Bileam is egter op die dwase koers wat hy ingeslaan het, voorgekeer toe ’n stom donkie in menstaal met hom geraas het.

Lees volledige hoofstuk 2 Petrus 2