Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 5:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Omdat ons soveel ontsag vir die Here het, probeer ons mense oorreed. Ons opregte bedoelings is aan God bekend en ek vertrou dat julle in julle gewetens ook daarvan oortuig sal wees.

12. Ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar gee net vir julle aanleiding om op ons trots te wees sodat julle iets mag hê teenoor hulle wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie.

13. As dit lyk asof ons buite ons sinne was, was dit ter wille van God; en as ons by ons volle verstand is, is dit ter wille van julle.

14. Die liefde van Christus dring ons. Omdat ons geoordeel het dat Een vir almal gesterf het, glo ons dat ons almal ons ou, sondige lewe afgesterf het.

15. Hy hét vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie meer vir hulself moet leef nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.

16. Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ’n menslike maatstaf nie. Al het ons Christus ook vroeër volgens ’n menslike maatstaf beoordeel, oordeel ons nou heeltemal anders oor Hom.

17. Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!

18. Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het.

19. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Hierdie boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig.

20. Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ’n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God!

21. God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons hegte verhouding met Christus, deur God vrygespreek kan word.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 5