Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 2:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Onder groot spanning en beklemming van die hart, en met trane, het ek my vorige brief aan julle geskryf, nie om julle hartseer te maak nie, maar dat julle moet weet dat ek julle besonder baie liefhet.

5. As iemand hartseer veroorsaak het, is dit nie net ek wat hartseer is nie, maar julle almal, of ten minste sommige van julle.

6. Vir só ’n persoon is hierdie bestraffing deur die meerderheid genoeg.

7. Nou is dit die tyd om só ’n persoon eerder te vergewe en by te staan, anders kan hy deur te veel berou verteer word.

8. Daarom smeek ek julle: Bewys liefde aan hom.

9. Dit is juis hieroor dat ek geskryf het – om kennis te neem van julle getrouheid en of julle in alles gehoorsaam die pad bly loop.

10. As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Want as ek iets het om te vergewe, het ek dit reeds gedoen ter wille van julle, in die teenwoordigheid van Christus.

11. Die bedoeling is dat ons nie deur Satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!

12. Toe ek in Troas aangekom het om die Goeie Nuus van Christus te preek, is ’n deur vir my deur die Here oopgemaak.

13. Tog kon ek net nie tot rus kom nie omdat ek my broer Titus nie daar kon vind nie. Daarom het ek van die mense afskeid geneem en na Masedonië vertrek.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 2