Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1:9-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek.

10. Dit is Hy wat ons van só ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red.

11. Daaraan werk julle saam deur ook vir ons te bid. Die gevolg is dat die gebede van baie mense ’n genadegawe vir ons bring en dat daar ook baie mense is wat Hom vir ons dank.

12. Ons trots bestaan daarin dat ons gewete saam getuig dat ons teenoor die wêreld, maar in die besonder teenoor julle, opgetree het met die erns en egtheid wat van God af kom. Ons het staatgemaak op die onverdiende goedheid van God en nie op ons eie menslike insig nie.

13. Ons skryf aan julle niks wat julle nie self lees of verstaan nie. Ek hoop net dat julle ten volle sal verstaan

14. waar julle ons tot nou toe net gedeeltelik verstaan het. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal ons trots wees op julle, net soos julle op ons trots sal wees.

15. Met hierdie oortuiging het ek al vroeër beplan om na julle toe te kom sodat julle ’n dubbele geskenk kon ontvang.

16. Ek wou op die deurreis na Masedonië by julle aandoen en weer ’n keer op die terugreis van Masedonië af, om dan met julle hulp verder na Judea toe gestuur te word.

17. Was ek miskien wispelturig toe ek hierdie plan gemaak het? Of doen ek my beplanning volgens menslike oorwegings, met die gevolg dat dit by my gaan oor ’n “ja” as ek eintlik ’n “nee” bedoel?

18. God is die betroubaarheid self. Hy weet dat ons woord teenoor julle nie “ja” en terselfdertyd “nee” is nie.

19. Want die Seun van God, Christus Jesus, wat deur ons – dit is deur my, Silvanus en Timoteus – onder julle verkondig is, is nie terselfdertyd “ja” en “nee” nie. In Hom het God se “ja” plaasgevind,

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 1