Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 4:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Natuurlik vind nie-Christene dit vreemd dat julle nie meer met hierdie stroom losbandigheid saamgaan nie, en praat hulle sleg van julle.

5. Hulle sal egter verantwoording moet doen aan Hom wat klaarstaan om oor die lewendes en die dooies te oordeel.

6. Dis juis hoekom die Goeie Nuus aan die dooies verkondig is toe hulle nog gelewe het. Hulle kon toe besef dat hulle volgens God se geestelike maatstawwe kan lewe, hoewel hulle volgens aardse, menslike maatstawwe veroordeel was om die fisiese dood te sterf.

7. Die einde van alles is naby.Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees; dan sal julle kan bid.

8. Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe.

9. Tweedens: Ontvang mekaar in julle huise sonder om te kla.

10. Derdens: God het aan elkeen van julle ’n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei.

11. Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word deur dit wat Jesus Christus moontlik gemaak het. Aan Hom behoort alle heerlikheid en krag tot in alle ewigheid! Amen.

12. Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef wat oor julle kom nie. Dis nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 4