Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 1:3-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Alle eer aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy sy ontferming aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.

4. God het inderdaad ’n kosbare erfporsie vir sy kinders. Hierdie erfporsie kan nie tot niet gaan of besmet word of verwelk nie; God hou dit veilig by Hom.

5. En God sal ook júlle deur sy krag veilig bewaar sodat julle die verlossing sál ontvang deurdat julle op Hom vertrou. Julle verlossing sal in die eindtyd vir almal sigbaar word.

6. Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ’n rukkie laat swaarkry.

7. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.

8. Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie.

9. Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

10. Oor hierdie verlossing wou die profete meer weet. Hulle het oor God se genade wat vir julle bedoel is, geprofeteer, al het hulle baie vrae oor die bedoeling daarvan gehad.

11. Hulle het probeer uitvind wat die Gees van Christus in hulle bedoel het toe Hy vooruit vir hulle vertel het van Christus se lyding en dat Hy daarna verheerlik sou word. Hulle het gewonder met wie en wanneer dit alles sou gebeur.

12. God het aan hulle openbaar dat dit wat hulle geprofeteer het, nie vir hulle eie tyd bedoel was nie, maar vir julle s’n. Dié Goeie Nuus is nou by julle aangekondig deur dié wat vir julle gepreek het met die krag wat die Heilige Gees gee. God self het die Gees gestuur. Dit is só wonderlik dat selfs die engele dit alles fyn dophou.

13. Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe.

14. Wees gehoorsaam aan God, want julle is sy kinders. Moenie weer soos vroeër julle natuurlike neigings die oorhand laat kry nie. Julle het destyds nie van beter geweet nie.

15. Soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel ook heilig wees.

16. Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!”

17. En onthou dat die Vader tot wie julle bid, niemand voortrek wanneer Hy beoordeel nie. Hy beoordeel elke mens volgens sy dade. Daarom moet julle julle eerbied vir Hom wys met julle leefstyl, al is julle uitlanders.

18. Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 1