Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 3:7-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Wie plant en wie natgooi, is nie belangrik nie. Die belangrike Een is God, want dit is Hý wat laat groei.

8. Die een wat plant en die een wat natgooi, werk saam en het een gesamentlike doel, alhoewel elkeen sy eie beloning sal ontvang in ooreenstemming met sy eie harde werk.

9. Ons is Gód se werkspan. Julle is Gód se saailand, Gód se gebou, nie ons s’n nie.

10. Op grond van die genade wat God aan my bewys het, het ek soos ’n meesterbouer die fondament gelê. Ander bou daarop voort. Maar elkeen wat op hierdie fondament bou, moet baie versigtig wees.

11. Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.

12. As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels.

13. Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.

14. Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.

15. Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ’n brand gered word.

16. Besef julle nie dat julle almal saam die tempel van God uitmaak en dat die Gees van God in julle as sy tempel woon nie?

17. As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom skade aandoen. God se tempel is immers heilig en julle is self daardie tempel.

18. Moenie julleself om die bos lei nie. As julle dink dat julle wys is volgens die standaarde van hierdie wêreld, sal julle eers dwaas moet word sodat julle werklik wys kan word volgens God se standaarde.

19. Want die wysheid van hierdie wêreld is by God dwaasheid. Soos die Skrif dit stel:“God vang die slimmes met hulle eie slinkse planne.”

20. En weer:“Die Here ken die gedagtesvan die wyses –hoe niksseggend hulle is.”

21. Moet julle dus nie daarop beroem dat julle volgelinge van een spesifieke leier is nie. Alles is immers julle s’n:

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 3