Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 11:3-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus hoof is oor elke man, dat die man hoof is oor sy vrou en dat God hoof is oor Christus.

4. Elke man wat met ’n kopbedekking bid of profeteer, doen Christus oneer aan.

5. En elke vrou wat bid of profeteer sonder dat sy haar kop bedek, doen haar man oneer aan, want dis dieselfde as wanneer haar hare afgeskeer sou wees.

6. Ja, as sy weier om ’n kopbedekking te dra, kan sy ewe goed haar hare ook maar afsny. Maar aangesien dit ’n skande vir ’n vrou is as haar hare afgesny of haar kop kaalgeskeer is, behoort sy ’n kopbedekking te dra.

7. ’n Man behoort egter nie ’n kopbedekking op te hê wanneer hy aanbid nie, want hy is God se beeld en sieraad. Die vrou is weer die man se sieraad.

8. Die eerste man is immers nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man.

9. Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man.

10. Die vrou moet dus ’n kopbedekking op hê as ’n teken van haar man se gesag oor haar, want die engele is besig om toe te kyk.

11. Tog, voor die Here is die vrou aangewese op die man en die man is weer aangewese op die vrou.

12. Want alhoewel die eerste vrou uit die man afkomstig was, is alle mans sedertdien uit vroue gebore. En uiteindelik is alles van God afkomstig.

13. Oordeel julle nou maar self. Is dit ordentlik vir ’n vrou om in die erediens met ’n onbedekte kop tot God te bid?

14. Leer julle gevoel van ordentlikheid nie vir julle dat dit vir ’n man oneervol is as hy ’n kopbedekking opsit,

15. maar dat ’n bedekking vir ’n vrou juis ’n sieraad is nie? Lang hare is immers as ’n bedekking vir haar gegee.

16. Maar as iemand hieroor wil argumenteer – ons het in elk geval nie so ’n gebruik nie en ook nie die ander gemeentes van God nie.

17. Wanneer ek nou hierdie volgende saak ophaal, kan ek julle nie prys nie, want as julle as gemeente bymekaarkom, doen dit meer kwaad as goed.

18. Wat vir my vooropstaan, is dat ek verneem dat daar groepvorming onder julle is wanneer julle as gemeente bymekaarkom, en in ’n mate glo ek dit.

19. (Sulke verdelings onder julle kan selfs nodig wees in dié sin dat dit sal uitwys wie die staatmakers onder julle is.)

20. As julle dan as gemeente bymekaarkom, is dit duidelik nie die Here se maaltyd wat julle eet nie.

21. Want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen haastig sy eie ete met die gevolg dat die een honger bly en die ander een weer dronk word.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 11