Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 5:12-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie.

13. Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.

14. Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.

15. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan.

16. As jy sien dat jou broer of suster aanhou sonde doen – sonde wat nie tot die dood lei nie – moet jy ernstig bid en God sal aan hulle lewe gee. Dit geld vir dié sondes wat nie tot die dood lei nie. Daar is ook sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat jy daarvoor moet bid nie.

17. Elke optrede wat nie reg is nie, is sonde, maar nie elke sonde lei tot die dood nie.

18. Ons leef egter met die wete dat elkeen wat deur God verwek is, nie aanhou sonde doen nie. God bewaar dié een wat uit Hom gebore is en die bose kry nie vatplek aan hom nie.

19. Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê.

20. Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 5