Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 2:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie. As iemand egter sonde doen, ons het ’n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.

2. Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom.

3. En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam.

4. As iemand sê: “Ek leef in ’n persoonlike verhouding met God,” maar nie sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ’n persoon ’n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie.

5. Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is.

6. Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het.

7. Geliefdes, ek stuur nie aan julle ’n nuwe opdrag nie, maar ’n ou een wat julle nog altyd gehad het. Dié ou opdrag is die boodskap wat julle reeds lankal gehoor het.

8. Tog is dit ook ’n nuwe opdrag wat ek aan julle gee. Hierdie opdrag is betroubaar en van toepassing op julle verhouding tot Christus en tot mekaar. Die duisternis is immers aan die verbygaan en die lig wat die waarheid bring, skyn alreeds.

9. As iemand sê: “Ek leef in ’n hegte verhouding met die lig,” maar ’n medegelowige haat, verkeer so ’n mens nog steeds in die duisternis.

10. Enigeen wat sy medegelowiges liefhet, leef in ’n verbintenis met die lig en is nie ’n bron van struikeling vir ander nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 2