Ou Testament

Nuwe Testament

Yonah 1:1-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die woord van יהוה het tot Yonah, die seun van Amittai gekom en gesê:

2. “Staan op, gaan na die groot stad Ninveh en roep daarteen uit, want hulle boosheid het opgekom voor My.”

3. Yonah het egter opgestaan om na Tarshish te vlug, weg van die Teenwoordigheid van יהוה af. Hy het afgegaan na Yafo, ’n skip gevind wat na Tarshish vaar, die reisgeld betaal en daarin afgegaan om saam met hulle na Tarshish te vaar, weg van die Teenwoordigheid van יהוה af.

4. יהוה het ’n sterk wind oor die see uitgestuur en daar was ’n groot storm op die see sodat die skip op die punt was om op te breek.

5. Toe het die matrose bang geword en elke man het uitgeroep na sy god. Die bemanning het die vrag wat in die skip was, in die see gegooi om dit vir hulle ligter te maak, maar Yonah het afgegaan na die vraggedeelte van die skip, gaan lê en vas aan die slaap geraak.

6. Die kaptein het hom genader en gesê: “Hoe is dit dat jy slaap? Staan op, roep uit na jou God! Miskien sal jou God bekommerd wees oor ons sodat ons nie sal vergaan nie.”

7. Elkeen sê toe vir sy maat: “Kom, laat ons lootjies trek sodat ons kan weet om wie se ontwil hierdie katastrofe ons getref het.” Hulle het geloot en die lot het op Yonah geval.

8. Toe sê hulle vir hom: “Vertel ons nou! Om watter rede het hierdie ramp ons getref? Wat is jou beroep en waar kom jy vandaan? Van watter land is jy en uit watter volk kom jy?”

9. Hy antwoord hulle: “Ek is ’n Hebreër en ek vrees יהוה, God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het.”

10. Toe het die manne baie bang geword en sê vir hom: “Hoe kon jy dit doen?” Die manne het geweet dat hy van die Teenwoordigheid van יהוה af wegvlug, want hy het hulle vertel.

11. Hulle sê vir hom: “Wat moet ons aan jou doen sodat die see kalm sal word vir ons?” Want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword.

12. Hy antwoord hulle: “Tel my op en gooi my in die see; dan sal die see vir julle kalm word, want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.”

13. Nogtans het die manne geroei om terug te keer land toe, maar hulle kon nie omdat die see selfs onstuimiger teen hulle geword het.

14. Toe roep hulle uit tot יהוה en sê: “O, יהוה, ons bid ernstig, laat ons tog nie vergaan weens hierdie man se lewe nie en sit nie onskuldige bloed op ons nie, want U, יהוה, het gedoen volgens U welbehae.”

15. Hulle het Yonah opgetel, hom in die see gegooi en die see het sy onstuimigheid gestop.

Lees volledige hoofstuk Yonah 1