hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3

Ou Testament

Nuwe Testament

Yo'el 1 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die boodskap van יהוה wat tot Yo’el, die seun van P’tu’el, gekom het.

2. Luister hierna, o oudstes en luister, al die inwoners van die land! Het so iets in julle dae of in die dae van julle vaders gebeur?

3. Vertel julle seuns daarvan en laat julle seuns dit aan hulle seuns vertel en húlle seuns aan die volgende geslag.

4. Wat die knaagsprinkaan laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvretersprinkaan verslind.

5. Word wakker, dronkaards en huil! Treur, al julle wyndrinkers, oor die soetwyn wat afgesny is van julle mond,Deut 28:49

6. want ’n magtige en ontelbare nasie het my land ingeval; sy tande is die tande van ’n leeu en dit het die slagtande van ’n leeuin.

7. Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het hulle skoon gestroop en weggegooi; hulle takke het wit geword.

8. Treur soos ’n maagd, omgord met ’n roukleed, oor die bruidegom van haar jeug.

9. Die graanoffer en die drankoffer is afgesny van die huis van יהוה. Die priesters, die bedienaars van יהוה, treur.

10. Die veld is verwoes, die land treur, want die graan is verwoes, die nuwe wyn droog op, nuwe olie faal.

11. Wees beskaamd, o landbouers; treur, o wynboere; oor die koring en oor die gars, omdat die oes op die land vernietig is.

12. Die wingerdstok verdroog en die vyeboom faal; die granaat, asook die palm en die appelboom, al die bome van die land verdroog. Inderdaad, vreugdevolheid droog op vanuit die seuns van ’n mens.

13. Omgord julleself en weeklaag, o priesters; huil, o bedienaars van die altaar! Kom, oornag in rouklere, o bedienaars van my God, want die graanoffer en die drankoffer word teruggehou van die huis van julle God.

14. Sonder ’n vasdag af, roep ’n ernstige byeenkoms uit; versamel die oudstes, al die inwoners van die land, in die huis van יהוה, julle God en roep uit tot יהוה.

15. O, die dag, want die dag van יהוה is naby en dit sal kom as ’n vernietiging vanaf die Almagtige.

16. Is kos nie voor ons oë afgesny nie; blydskap en vreugde vanuit die huis van ons God?

17. Die saad krimp weg onder hulle kluite, die stoorkamers is verlate, die store is afgebreek, want die koring het opgedroog.

18. Hoe sug die diere! Die troppe beeste dwaal doelloos, want daar is geen weiding vir hulle nie; selfs die troppe kleinvee kry swaar.

19. Tot U, o יהוה, roep ek uit, want ’n vuur het die weivelde van die wildernis verteer en die vlam het al die bome van die veld afgebrand.

20. Selfs die diere van die veld smag na U, want die waterstrome het opgedroog en vuur het die weivelde van die wildernis verteer.