Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 9:2-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. “Hulle span hulle tong, soos hulle boog; leuens, nie waarheid nie, hou aan in die land, want hulle gaan voort van boosheid tot boosheid en hulle ken My nie,” verklaar יהוה.

3. “Laat elkeen op sy hoede wees vir sy naaste en vertrou op geen broer nie, want elke broer handel onderduims en elke naaste gaan as ’n kwaadprater om.

4. Elkeen bedrieg sy naaste en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat; hulle maak hulself moeg met onregverdigheid.

5. Jou blyplek is in die middel van misleiding; deur misleiding weier hulle om My te ken,” verklaar יהוה.Yes 1:25

6. יהוה-Tzva’ot sê daarom: “Let op, Ek suiwer hulle en toets hulle, want wat anders kan Ek doen as gevolg van die dogter van My volk?

7. Hulle tong is ’n dodelike pyl; dit praat misleiding; met sy mond praat een vrede met sy naaste, maar in sy binneste stel hy vir hom ’n hinderlaag op.

8. Sou Ek hulle nie straf vir hierdie dinge nie?” verklaar יהוה. “Sou Ek Myself nie wreek op ’n nasie soos hierdie een nie?

9. Ek sal ’n gehuil en ’n gekla opneem vir die berge en ’n treurlied oor die weivelde van die wildernis, want hulle is verwoes sodat niemand daar deur gaan nie en die gebulk van beeste word nie gehoor nie; beide die voëls van die hemel en die diere het gevlug; hulle is weg.

10. Ek sal van Yerushalayim ’n puinhoop maak, ’n lêplek van jakkalse en die stede van Y’hudah ’n verlatenheid, sonder inwoning.”

11. Wie is die wyse man wat dit mag verstaan? Wie is hy met wie die mond van יהוה gepraat het dat hy dit kan verkondig? Waarom is die land vernietig, verwoes soos ’n woestyn sodat niemand deur gaan nie?

12. יהוה het gesê: “Omdat hulle My wet, wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en nie My stem gehoorsaam of daarvolgens geloop het nie,

13. maar geloop het agter die hardkoppigheid van hulle verstand, wil en emosie en agter die Ba’als aan, soos hulle vaders hulle geleer het,”

14. sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Let daarom op, Ek sal hulle, hierdie volk, met wilde-als voed en vir hulle giftige water gee om te drink.

15. Ek sal hulle verstrooi onder die nasies wat nie hulle of hul vaders geken het nie en Ek sal die swaard agter hulle aanstuur totdat Ek hulle uitgewis het.”

16. So sê יהוה-Tzva’ot: “Oorweeg en roep die klaagvroue sodat hulle kom en stuur na die huilvroue sodat hulle kan kom!

17. Laat hulle gou maak en ’n weeklag opneem vir ons sodat ons oë trane kan stort en ons ooglede stroom met water,

18. want die geluid van weeklag word uit Tziyon gehoor: ‘Hoe is ons nie verwoes nie! Ons is tot diep skande gemaak, want ons het die land verlaat omdat hulle ons wonings afgebreek het.’”

19. Luister en hoor nou die woord van יהוה, o vroue en laat julle ore die woord van Sy mond ontvang; leer julle dogters ’n weeklag en vir mekaar ’n treurlied,

20. want die dood het deur ons vensters opgekom, in ons paleise ingekom om die seuns van die straat af uit te roei, die jongmanne van die pleine af.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 9