Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 31:12-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Hulle sal kom en uitroep van vreugde op die hoogte van Tziyon en stralend wees oor die buit van יהוה, oor die graan en die nuwe wyn en die olie en oor die jong skape en beeste en hulle lewe sal soos ’n natgemaakte tuin wees en hulle sal nooit weer wegkwyn nie.

13. Dan sal die maagd haar verheug in die dans en die jongmanne en die oues saam, want Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en vir hulle blydskap gee vir hulle smart.

14. Ek sal die lewe van die priesters vol maak met oorvloed en My volk sal versadig wees met My goedheid,” verklaar יהוה.Mat 2:17,18

15. So sê יהוה: “’n Stem word gehoor in Ramah, ’n gekerm en bitter gehuil; Ragel huil oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, want hulle is nie meer nie.”

16. So sê יהוה: “Bedwing jou stem van huil en jou oë van trane, want jou werk sal beloon word,” verklaar יהוה; “hulle sal terugkom uit die land van die vyand.

17. Daar is versekerde verwagting vir jou toekoms,” verklaar יהוה; “en die seuns sal terugkom na hulle eie grondgebied.

18. Ek het sekerlik vir Efrayim hoor kla: ‘U het my getugtig en ek is getugtig soos ’n ongeleerde kalf. Laat my terugkom sodat ek herstel kan word, want U is יהוה, my God,

19. want nadat ek teruggedraai het, het ek berou en erken en nadat ek geleer is, het ek op my heup geslaan; ek was beskaamd en ook vernederd omdat ek die smaad van my jeug gedra het.’

20. Is Efrayim My dierbare seun? Is hy ’n genotvolle kind? Inderdaad, so dikwels as wat Ek teen hom gepraat het, onthou Ek hom steeds; daarom verlang My binneste na hom; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm,” verklaar יהוה.

21. Rig vir jouself padtekens op, sit vir jouself padwysers neer; rig jou gedagtes op die hoofpad, die pad waarop jy gegaan het. Kom terug, o maagd van Yisra’el, kom terug na hierdie, jou stede!

22. Hoe lank sal jy heen en weer gaan, o trouelose dogter? Want יהוה het iets nuuts op die aarde geskep: die vrou sal haar man liefhê.”

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 31