Ou Testament

Nuwe Testament

Yirmeyahu 14:14-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Toe het יהוה vir my gesê: “Die profete profeteer valsheid in My Naam (Karakter en Outoriteit). Ek het hulle nie gestuur, of hulle beveel of met hulle gepraat nie; hulle profeteer vir julle ’n vals visioen, waarsêery, nutteloosheid en die misleiding van hulle eie gedagtes.

15. יהוה sê daarom: “Aangaande die profete wat profeteer in My Naam (Karakter en Outoriteit), alhoewel dit nie Ek is wat hulle gestuur het nie; tog hou hulle aan sê: ‘Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie.’ Daardie profete sal deur swaard en hongersnood hulle einde tegemoet gaan!

16. Ook die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Yerushalayim uitgegooi word vanweë die hongersnood en die swaard en daar sal niemand wees om hulle te begrawe nie; nie hulle, of hulle vrouens, of hulle seuns, of hulle dogters nie, want Ek sal hulle eie boosheid oor hulle uitstort.

17. Jy moet hierdie woord vir hulle sê: ‘Laat My oë afloop in trane nag en dag en nie ophou nie, want die maagdelike dogter van My volk is gebreek met ’n magtige hou, met ’n ernstig geïnfekteerde wond.

18. As Ek uitgaan in die platteland, let op, die wat neergeslaan is met die swaard; of as Ek in die stad ingaan, let op, siektes van hongersnood, want beide profeet en priester het in die land rondvertel wat hulle nie weet nie.’”

19. Het U Y’hudah heeltemal verwerp? Of het U Tziyon verafsku? Waarom het U ons geslaan sodat ons verby genesing is? Ons het gewag op vrede, maar niks goeds het gekom nie en op ’n tyd van genesing, maar let op, verskrikking!

20. יהוה, ons ken ons boosheid, die onregverdigheid van ons vaders, want ons het teen U gesondig.

21. Moet ons nie, ter wille van U Naam (Karakter en Outoriteit), verag nie; moenie die troon van U lof, eer en aanbidding onteer nie; onthou en moenie U verbond met ons kanselleer nie.

22. Is daar enige onder die afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie toestaan? Is dit nie U nie, o יהוה, ons God? Ons verwagting is daarom van U, want U is die Een wat al hierdie dinge doen.

Lees volledige hoofstuk Yirmeyahu 14