Ou Testament

Nuwe Testament

Y'hoshua 24:1-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het Y’hoshua al die stamme van Yisra’el bymekaar laat kom by Sh’khem en die oudstes van Yisra’el, hulle hoofde, regters en hulle leiers laat roep en hulle het hulself voor God aangebied.

2. Y’hoshua het vir al die mense gesê: “So sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Van antieke tye af het julle vaders oorkant die Rivier (Eufraat) gebly; Terag, die vader van Avraham en die vader van Nagor en hulle het ander gode gedien.

3. Toe het Ek julle vader Avraham, van oorkant die Rivier af, gevat en hom deur die hele land Kena’an laat trek en sy nageslag vermeerder en Yitz’gak vir hom gegee.

4. Aan Yitz’gak het Ek Ya’akov en `Esav gegee en aan `Esav het Ek die Se’ir gebergte gegee, om dit te besit, maar Ya’akov en sy seuns het afgegaan na Mitzrayim.

5. Toe het Ek Moshe en Aharon gestuur en Mitzrayim met ’n plaag getref in sy midde en daarna het Ek julle uitgebring.

6. Ek het julle vaders uit Mitzrayim uitgebring en julle het by die see gekom en die Mitzrayiete het julle vaders met strydwaens en perderuiters na die Sufsee toe agterna gejaag,

7. maar toe julle vaders uitgeroep het na יהוה, het Hy duisternis gesit tussen julle en die Mitzrayiete en toe het יהוה die see laat verdeel en julle vaders daar deur laat kom en die see oor die Mitzrayiete laat kom en hulle oordek en julle eie oë het gesien wat Ek in Mitzrayim gedoen het. Julle het in die wildernis gebly vir ’n lang tyd.

8. Toe het Ek julle gebring in die land van die Emoriete wat oorkant die Yarden gebly het en hulle het teen julle geveg en Ek het hulle in julle hand gegee en julle het hul land in besit geneem toe Ek hulle voor julle uit vernietig het.

9. Toe het Balak, die seun van Tzippor, die koning van Mo’av, opgestaan en teen Yisra’el geveg en hy het gestuur en Bil’am, die seun van B’or, geroep om julle te vervloek,

10. maar Ek was nie gewillig om na Bil’am te luister nie. Hy moes julle seën en Ek het julle uit sy hand gered.

11. Julle het oor die Yarden getrek en by Yerigo gekom en die burgers van Yerigo het teen julle geveg, asook die Emoriete, P’riziete, Kena’aniete, Hittiete, Girgashiete, Hiviete en Y’vusiete. So het Ek hulle in julle hand gegee.

12. Toe het Ek die perdebye voor julle uit gestuur en die twee konings van die Emoriete voor julle uit verdryf, nie deur jou swaard of jou boog nie.

13. Ek het vir julle ’n land gegee wat julle nie bewerk het nie en stede wat julle nie gebou het nie en julle het daarin gebly; julle eet van wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie.’

14. Vrees יהוה daarom respekvol en dien Hom in opregtheid en waarheid en verwyder die gode wat julle vaders oorkant die Eufraatrivier en in Mitzrayim gedien het en dien יהוה.

15. As dit onaanvaarbaar is in julle oë om יהוה te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders oorkant die Eufraatrivier gedien het, òf die gode van die Emoriete in wie se land julle woon, maar ek en my huis, ons sal יהוה dien.”

16. Die volk antwoord en sê: “Dit is ver van ons dat ons יהוה sou verlaat om ander gode te dien,

17. want יהוה, ons God, is Hy wat ons en ons vaders uit die land van Mitzrayim uit die huis van slawerny gebring het en wat voor ons oë hierdie groot tekens gedoen het en ons bewaar het op die hele pad wat ons gegaan en tussen al die volke waardeur ons getrek het.

18. יהוה het al die volke voor ons uit verdryf, selfs die Emoriete wat in die land gebly het. Ook ons sal יהוה dien, want Hy is ons God.”

Lees volledige hoofstuk Y'hoshua 24