Ou Testament

Nuwe Testament

Yesha'yahu 44:19-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

19. Niemand onthou nie en daar is geen kennis of insig om te sê nie: ‘Ek het die helfte daarvan verbrand in die vuur en ook brood gebak op sy kole; ek het vleis gebraai en geëet; dan maak ek die res daarvan in ’n gruwel, ek val neer voor ’n stuk hout!’

20. Hy word gevoed uit as, ’n misleide verstand, wil en emosie het hom laat wegdraai en hy kan homself nie red, of sê nie: ‘Is daar nie ’n leuen in my regterhand nie?’

21. Onthou hierdie dinge, o Ya’akov en Yisra’el, want jy is My dienskneg; Ek het jou gevorm; jy is My dienskneg, o Yisra’el; jy sal nie deur My vergeet word nie.

22. Ek het jou oortredinge van die wet uitgevee soos ’n dik wolk en jou sondes soos ’n swaar mis. Draai terug na My, want Ek het jou losgekoop.”

23. Roep uit van vreugde, o hemele, want יהוה het dit gedoen. Roep vreugdevol uit, laer dele van die aarde! Breek uit in uitroepe van vreugde, o berge, woude en elke boom daarin, want יהוה het Ya’akov losgekoop en in Yisra’el Sy lof, eer en aanbidding gewys.

24. So sê יהוה, jou Loskoper en die Een wat jou gevorm het van die baarmoeder af: “Ek, יהוה, is die Maker van alle dinge, wat Self die hemel uitspan en die aarde heeltemal alleen uitsprei,

25. wat die tekens van die leuenprofete laat faal en die waarsêers tot dwase maak; wat die wyse laat terugtrek en hulle kennis in dwaasheid verander;

Lees volledige hoofstuk Yesha'yahu 44