Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 47:3-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

3. Toe die man na die ooste uitgegaan het met ’n meetlyn in sy hand, het hy ’n duisend el gemeet en hy het my deur die water gelei en dit was enkel diep.

4. Weer het hy ’n duisend gemeet en my deur die water gelei en dit was op tot by die knieë. Weer het hy ’n duisend gemeet en my deur gelei en dit was op tot by die heupe.

5. Weer het hy ’n duisend gemeet en dit was ’n stroom wat niemand kon deurgaan nie, want die water het so hoog gerys en die stroom so sterk geword dat niemand kon deurgaan nie.

6. Hy het vir my gesê: “Seun van ’n mens, het jy dit gesien?” Toe het hy my teruggebring na die wal van die rivier toe.

7. Nadat ek teruggegaan het, let op, was daar baie bome op die walle van die rivier, aan die een kant en aan die ander.

8. Toe het hy vir my gesê: “Hierdie waters wat uitgaan in die rigting van die oostelike streek en afvloei na die Vlakte (Aravah), sal in die see invloei en meng met die stagnante water en dit vars maak.

9. Dit sal gebeur dat al die lewende wesens wat wemel in elke plek waar die rivier kom, sal lewe en daar sal vreeslik baie visse wees omdat hierdie water daarheen gaan en dié vars word; so sal alles lewe waar die rivier gaan.

10. Dit sal gebeur dat vissers langs dit sal staan; vanaf `Ein-Gedi tot by `Ein-`Eglayim sal daar ’n plek wees vir die uitsprei van nette. Hulle visse sal volgens hulle spesies wees, soos die visse van die Groot See, vreeslik baie,

11. maar sy moerasse en vleie sal nie vars word nie: hulle sal vir sout gelos word.Yes 27:12; Ps 1:3; Ps 144:12

12. By die rivier, op sy walle, aan die een kant en aan die ander, sal allerhande bome groei vir kos. Hulle blare sal nie verdor en die vrugte nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want hulle water vloei vanaf die Afgesonderde Plek en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare vir genesing.”

13. So sê יהוה-God: “Hierdie sal die grense wees waardeur julle die land sal verdeel as erfenis tussen die twaalf stamme van Yisra’el; Yosef moet twee porsies kry.

14. Julle moet dit verdeel as ’n erfenis, elkeen gelyk met die ander, want Ek het gesweer om dit vir julle voorvaders te gee en hierdie land moet julle as erfenis toeval.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 47