Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 3:16-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Aan die einde van sewe dae het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

17. “Seun van ’n mens, Ek het jou as wagter vir die huis van Yisra’el aangestel; wanneer jy ook al ’n boodskap uit My mond hoor, moet jy hulle namens My waarsku.

18. Wanneer Ek vir die bose oortreder sê: ‘Jy sal sekerlik sterf ’ en jy waarsku hom nie of praat nie om die bose oortreder aangaande sy bose lewenswyse te waarsku dat hy kan lewe nie, sal daardie bose oortreder in sy oortredinge sterf, maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

19. Tog, as jy die bose oortreder gewaarsku het en hy draai nie van sy boosheid of van sy bose lewenswyse af weg nie, sal hy in sy oortredinge sterf, maar jy het jouself bevry.

20. Ook, as ’n onpartydige en opregte man wegdraai van sy onpartydige opregtheid en oortredinge begaan en Ek ’n struikelblok voor hom gooi, sal hy sterf en omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy sterf in sy sonde en sy onpartydige en opregte dade wat hy gedoen het, sal nie onthou word nie, maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.Yeg 33:1-9

21. As jy die onpartydige en opregte man egter gewaarsku het dat die onpartydig opregte man nie moet sondig nie en hy sondig nie, sal hy sekerlik leef omdat hy die waarskuwing aanvaar het en jy het jouself bevry.”

22. Die hand van יהוה was daar op my en Hy het vir my gesê: “Staan op, gaan uit na die vlakte toe en Ek sal daar met jou praat.”

23. Ek het opgestaan en na die vlakte gegaan en let op, die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het daar gestaan soos die Gemanifesteerde Teenwoordigheid wat ek by die K’varrivier gesien het en ek het op my gesig neergeval.

24. Die Gees het in my ingekom en my op my voete laat staan en Hy het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan, sluit jouself toe in jou huis.

25. Wat jou betref, seun van ’n mens, hulle sal toue om jou sit en jou met hulle vasbind sodat jy nie onder hulle kan uitgaan nie.

26. Meer nog, Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat vassit sodat jy stom sal wees en nie ’n man kan wees wat hulle kan bestraf nie, want hulle is ’n rebelse huis,

27. maar wanneer Ek met jou praat, sal Ek jou mond oopmaak en jy moet vir hulle sê: ‘So sê יהוה-God.’ Hy wat hoor en doen, laat hom hoor en doen en hy wat dit weier, laat hom weier, want hulle is ’n rebelse huis.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 3