Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 16:16-31 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Jy het van My klere gevat en vir jou kleurvolle hoë plekke versier en op hulle gehoereer. Hulle sal nie terug gebring word nie en ook nie joune wees nie.

17. Jy het ook jou mooi juweliersware wat uit My goud en My silwer gemaak is, wat Ek vir jou gegee het, gevat en jy het vir jou beelde van manne gemaak om daarmee te hoereer.

18. Toe het jy jou geborduurde klere gevat en hulle bedek en My olie en My wierook voor hulle geoffer.

19. Jy het ook My brood wat Ek vir jou gegee het, fyn meel, olie en heuning waarmee Ek jou gevoed het, voor hulle neergesit as ’n strelende reuk; so het dit gebeur,” verklaar יהוה-God.

20. “Meer nog, jy het jou seuns en jou dogters, wat jy vir My geboorte aan gegee het, gevat en hulle aan afgode geoffer om verteer te word. Was jou hoererye dan so ’n klein sakie?Deut 18:10; 2 Kon 17:17; 2 Kon 21:6; 2 Kro 28:3

21. Jy het My kinders geslag en hulle aan afgode geoffer deurdat jy hulle deur die vuur laat gaan het.

22. Saam met al jou verwerplikhede en hoererye het jy nie die dae van jou jeug onthou, toe jy naak en kaal was en gespartel het in jou bloed nie.

23. Toe het dit gebeur ná al jou booshede; ‘wee, wee jou!’” verklaar יהוה-God,

24. “dat jy vir jouself ’n afgesonderde plek en ’n hoë plek op elke dorpsplein gemaak het.

25. Jy het vir jouself ’n hoë plek by elke straatuitgang gebou en jou skoonheid verwerplik gemaak en jou bene uitgestoot vir elkeen wat verbygaan om jou hoererye te vermenigvuldig.

26. Jy het ook met die Mitzrayiete hoereer, jou wellustige bure en jou hoerery vermenigvuldig om My kwaad te maak.

27. Let nou op, Ek het My hand teen jou uitgestrek en jou rantsoene verminder en Ek het jou oorgegee aan die begeertes van hulle wat jou haat, die dogters van die F’lishtyne, wat hulle geskaam het oor jou onkuise optrede.

28. Meer nog, jy het gehoereer met die seuns van Ashur omdat jy nie bevredig was nie; jy het met hulle gehoereer en was steeds nie bevredig nie.

29. Jy het ook jou hoerery vermenigvuldig in die land van handelaars, die Kasdeërs, tog was jy ook daardeur nie bevredig nie.”

30. “Hoe smagtend is jou verstand, wil en emosie,” verklaar יהוה-God, “terwyl jy al hierdie dinge doen, die aksies van ’n hoer en rebelse vrou,

31. deurdat jy jou aanbiddingsplek aan die begin van elke pad bou en jou altare in elke straat opstel en tog was jy nie so slim soos ’n hoer wat ’n prys vra nie.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 16