Ou Testament

Nuwe Testament

Yegezk'el 11:14-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê:

15. “Seun van ’n mens, jou broers, jou familielede, jou mede-ballinge en die hele huis van Yisra’el en almal van hulle, aan wie die inwoners van Yerushalayim gesê het: ‘Gaan ver weg van יהוה af, hierdie land is vir ons as ’n besitting gegee;’

16. daarom, so sê יהוה-God: “Alhoewel Ek hulle ver verwyder het tussen die nasies en alhoewel Ek hulle verstrooi het tussen die lande, tog was Ek vir hulle vir ’n kort tydjie ’n Plek van Afsondering in die lande waarheen hulle gegaan het;’”

17. daarom sê: ‘So sê יהוה-God: “Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is en Ek sal aan julle die land Yisra’el gee.’”

18. Wanneer hulle daar kom sal hulle al sy verfoeilike en al sy verwerplike dinge daaruit verwyder

19. en Ek sal aan hulle een verstand, wil en emosie en ’n nuwe gees in hulle binneste gee en Ek sal die verstand, wil en emosie van klip uit hulle vlees verwyder en aan hulle ’n verstand, wil en emosie van vlees gee

20. sodat hulle in My instellings kan leef en My wette kan hou en dit doen. Dan sal hulle My volk wees en Ek sal hulle God wees.

21. Hulle wie se verstand, wil en emosie egter agter hulle verfoeilikhede en hulle verwerplike dinge aan loop; hulle optrede sal Ek op hulle koppe afbring,” verklaar יהוה-God.

22. Toe het die gérubs hulle vlerke opgelig met die wiele langs hulle en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van die God van Yisra’el het oor hulle gehang.

23. Die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het opgegaan vanuit die stad uit en het gaan staan oor die berg wat oos van die stad lê.

24. Die Gees het my opgelig en my, in ’n visioen deur die Gees van God, by die ballinge in die land van die Kasdeërs, gebring. Die visioen wat ek gesien het, het van my af weggegaan.

25. Toe het ek vir die ballinge al die dinge vertel wat יהוה vir my gewys het.

Lees volledige hoofstuk Yegezk'el 11