Ou Testament

Nuwe Testament

Tz'fanyah 3:2-10 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. Sy het na geen stem geluister nie, sy het geen dissipline aanvaar nie. Sy het nie op יהוה vertrou nie, sy het nie nadergekom na haar God toe nie.

3. Haar prinse binne-in haar is brullende leeus; haar regters is wolwe in die aand; hulle los niks vir die oggend nie.

4. Haar profete is ligsinnig, onbetroubare manne; haar priesters het die afgesonderde plek onteer. Hulle het die wet verkrag.

5. יהוה is regverdig binne-in haar; Hy sal geen onregverdige oordeel vel nie; elke oggend laat Hy Sy regverdige oordeel aan die lig kom, Hy faal nie, maar die onregverdige ken geen skaamte nie.

6. “Ek het nasies afgesny; hulle hoektorings is verwoes. Ek het hulle strate verlate gemaak, met niemand wat verbygaan nie; hulle stede is verwoes, sonder ’n mens, sonder ’n inwoner.

7. Ek het gesê: ‘Jy sal My sekerlik respekvol vrees, van My dissipline aanvaar.’ Haar blyplek sal nie afgesny word nie, volgens alles wat Ek aangaande haar aangestel het nie, maar hulle was ywerig om al hulle dade korrup te maak;

8. daarom, wag vir My,” verklaar יהוה, “vir die dag wat Ek opstaan as ’n getuie. Inderdaad, My besluit is om nasies te versamel, koninkryke te vergader om My verontwaardiging op hulle uit te gooi, al My brandende woede, want die hele aarde sal deur die vuur van My ywer verteer word,

9. want dan sal Ek aan die volke gereinigde lippe gee sodat almal van hulle die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה mag aanroep om Hom skouer teen skouer te dien.

10. Vanaf oorkant die riviere van Kush sal My aanbidders, My verstrooides, hulle offers bring.

Lees volledige hoofstuk Tz'fanyah 3