Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:16-30 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

16. Uit al hierdie manne was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat links was; elkeen kon ’n klip na ’n haar slinger sonder om te mis.

17. Toe is die manne van Yisra’el, behalwe Binyamin, getel: vier honderd duisend man wat die swaard uittrek, hulle almal was soldate.

18. Die seuns van Yisra’el het opgestaan, opgegaan na Beit-El en God geraadpleeg en gesê: “Wie van ons moet eerste optrek om te veg teen die seuns van Binyamin?” Toe sê יהוה: “Y’hudah eerste.”

19. Die seuns van Yisra’el het die oggend opgestaan en teen Giv’ah gekamp.

20. Die manne van Yisra’el het uitgegaan om te veg teen Binyamin en die manne van Yisra’el het opgestel vir die geveg by Giv’ah.

21. Toe kom die seuns van Binyamin uit Giv’ah uit en hulle het op dié dag twee en twintig duisend man van Yisra’el teen die grond geslaan,

22. maar die volk, die manne van Yisra’el, het hulleself bemoedig en hulle weer opgestel op die plek waar hulle die eerste dag opgestel het.

23. Die seuns van Yisra’el het opgegaan en gehuil voor יהוה tot die aand toe en יהוה geraadpleeg en gesê: “Moet ons weer optrek om te veg teen die seuns van my broer, Binyamin?” יהוה sê: “Trek teen hom op!”

24. Toe kom die seuns van Yisra’el teen die seuns van Binyamin die tweede dag.

25. Binyamin het uit Giv’ah op die tweede dag teen hulle uitgegaan en van die seuns van Yisra’el nog agttien duisend man wat almal die swaard uittrek, teen die grond geslaan.

26. Toe het al die seuns van Yisra’el en die hele volk opgegaan na Beit-El en gehuil; daar het hulle gebly voor die Teenwoordigheid van יהוה en dié dag gevas tot die aand toe en brandoffers en vredesoffers voor die Teenwoordigheid van יהוה geoffer.

27. Die seuns van Yisra’el het יהוה geraadpleeg (want die ark van die verbond van God was in dié dae daar,

28. en Pingas, die seun van El’azar, die seun van Aharon, het in dié dae voor dit gestaan) en gesê: “Moet ek weereens uitgaan in geveg teen die seuns van my broer, Binyamin, of moet ek ophou?” יהוה sê: “Gaan op, want môre sal Ek hulle in jou hand gee.”

29. Yisra’el het rondom Giv’ah manne in hinderlaag opgestel.

30. Die seuns van Yisra’el het op die derde dag teen die seuns van Binyamin opgegaan en hulle teen Giv’ah opgestel soos die vorige kere.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20