hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 7 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. ’n Goeie naam (karakter en outoriteit) is beter as kosbare salfolie en die dag van sy dood beter as die dag van sy geboorte.

2. Dit is beter om te gaan na ’n huis van rou as om te gaan na ’n huis van feesviering, want dit is die einde van alle mense en die lewende sal dit ter harte neem.

3. Hartseer is beter as om te lag, want deur die persoon se hartseer word die binneste beter gemaak.

4. Die verstand, wil en emosie van die wyse manne is in die huis van rou, maar die verstand, wil en emosie van die dwase is in die huis van plesier.

5. Dit is beter vir die mens om die bestraffing van ’n wyse te hoor as die lied van dwase,

6. want soos die geknetter van dorings wat onder ’n pot brand, so is die gelag van dwase; ook dit is waardeloos.

7. Waarlik, skinder vernietig ’n wyse man en omkoop vernietig die binneste.

8. Die einde van ’n saak is beter as sy begin en ’n geduldige in nederigheid is beter as ’n hoogmoedige van gees.

9. Word nie gou kwaad nie, want woede rus in die bors van die dwase.

10. Moenie sê: “Wat is die rede dat die vorige dae beter was as hierdie,” nie, want jy vra nie uit wysheid hierna nie.

11. Wysheid is beter as wapens, ja, dit is beter vir hulle wat die lig van die waarheid sien,

12. want die beskerming van wysheid is soos die beskerming van geld en die voordeel van kennis is dat wysheid lewe gee aan hulle wat dit besit.

13. Beskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?

14. Wees vreugdevol in die dag van voorspoed, maar kyk na jouself in die dag van boosheid. God het ook een ding teenoorgesteld van ’n ander gemaak sodat die mens niks sal weet nadat hy weg is nie.

15. Ek het alle dinge van waardeloosheid gesien in my dae; daar is ’n regverdige man wat vergaan in sy regverdigheid en daar is ’n bose man wat sy lewe verleng in sy boosheid.

16. Wees nie oor-regverdig en maak jouself nie oor-wys nie dat jy nie dwaas sal word nie.

17. Wees nie uitermate boos dat jy baie gehaat word nie; wees ook nie dwaas sodat jy voor jou tyd sterf nie.

18. Dit is goed dat jy hieraan vashou, ja trek nie jou hand hiervan terug nie, want hy wat God respekvol vrees, sal al hierdie dinge volg.

19. Die wysheid versterk die wyse meer as tien prinse wat in die stad is,

20. want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen en nie sondig nie.

21. Jy moet ook nie let op al die woorde wat die bose praat nie en ook nie na jou dienskneg as hy jou vloek nie,

22. want jou binneste weet dat jy self ook dikwels ander gevloek het.

23. Ek het al hierdie dinge met wysheid getoets; ek het gesê: “Ek sal wys wees,” maar wysheid was ver van my.

24. Ja, wysheid was ver weg, dit het ook diepte bo diepte, wie kan dit begryp?

25. Ek het rondgegaan en my verstand, wil en emosie daarop gekonsentreer om te weet, te soek en in te delf na wysheid en rede en om die boosheid van die dwaas te ken, selfs dwaasheid en oortreding.

26. Ek het gevind dat die vrou wie se binneste strikke en nette is en wie se hande hom wat goed is vasbind, bitterder is as die dood; hy wat goed is in die Teenwoordigheid van God, sal van haar ontsnap, maar hy wat sondig sal deur haar gevang word.

27. Let op, ek het dit uitgevind, sê die Prediker, deur die een ding op te weeg teen die ander, om die redes uit te vind

28. en weer het my lewe gesoek, maar ek het nie gevind nie: een man uit ’n duisend het ek gevind, maar ’n vrou het ek onder al hierdie nie gevind nie.

29. Let op, dit het ek gevind: dat God die mens opreg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.