Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 6:8-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Al die dae van sy afsondering is hy afgesonderd tot יהוה.

9. As iemand heeltemal onverwags naby hom sterf sodat hy sy toegewyde kop met hare verontreinig, moet hy op die dag van sy reiniging sy kop skeer; op die sewende dag moet hy dit skeer

10. en op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester, na die ingang van die Tent van Ontmoeting, bring.

11. Die priester moet een as sondoffer en een as brandoffer offer en vir hom toedekking doen vir wat hy as gevolg van die dooie gesondig het en hy moet sy kop op dieselfde dag afsonder.

12. Hy moet sy dae as Nazir aan יהוה toewy en ’n lam in sy eerste jaar as oortredingsoffer bring en die vorige dae is verlore omdat sy afsondering onrein gemaak is.

13. Dit is die wet van die Nazir: wanneer die dae van sy afsonderingskap voltooi is, moet hy na die ingang van die Tent van Ontmoeting gebring word

14. en hy moet sy offer aan יהוה bring: een lam, in sy eerste jaar, sonder gebrek, as brandoffer, een ooilam, in haar eerste jaar, sonder gebrek, as sondoffer, een ram, sonder gebrek, as vredesoffer,

15. ’n mandjie ongesuurde koeke, van fyn meel, gemeng met olie, ongesuurde platkoeke, met olie gesmeer en die graanoffer en die vredesoffers wat daarby hoort.

16. Die priester moet dit voor יהוה bring en die sondoffer en brandoffer vir hom offer

17. en hy moet ook die ram as vredesoffer aan יהוה offer saam met die mandjie ongesuurde koeke en die priester moet die graanoffer en drankoffer vir hom offer.

18. Die Nazir moet sy toegewyde kop skeer by die ingang van die Tent van Ontmoeting en die hare van sy toegewyde kop vat en dit op die vuur gooi, wat onder die vredesoffer is.

19. Die priester moet die gekookte blad van die ram vat en een ongesuurde koek uit die mandjie en een ongesuurde platkoek en hy moet hulle op die hande van die Nazir sit nadat dié sy toegewyde hare afgeskeer het.

20. Die priester moet dit waai as waaioffer voor יהוה. Dit is afgesonderd vir die priester, saam met die bors van die waaioffer en die boud van die opligoffer, daarna mag die Nazir wyn drink.

21. Dit is die wet vir die Nazir wat sy offer aan יהוה beloof, op grond van sy afsondering, behalwe wat sy hand kan bekostig. Volgens sy eed wat hy afgelê het, só moet hy doen volgens die wet van sy afsondering.’”Lev 27:1-8; Hand 21:24

22. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

23. “Praat met Aharon en sy seuns en sê: ‘Op die manier moet julle die seuns van Yisra’el seën. Sê vir hulle:

24. יהוה seën jou en onderhou jou;

25. יהוה laat Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid oor jou skyn en gee vir jou onverdiende guns;

26. יהוה lig Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid oor jou op en gee vir jou vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid.”

27. So sal hulle My Karakter en Outoriteit (Naam) op die seuns van Yisra’el lê en Ék sal hulle seën.”’”

Lees volledige hoofstuk Numeri 6