Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 3:23-38 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

23. Die families van die Gershoniete moet kamp opslaan agter die tabernakel aan die westekant.

24. Die leier oor die vader van die Gershoniete se huis is Elyasaf, die seun van La’el.

25. Die verantwoordelikheid van die seuns van Gershon by die Tent van Ontmoeting was: die tabernakel en die tent, sy dekkleed en die gordyn vir die ingang van die Tent van Ontmoeting,

26. die gordyne van die voorhof en die gordyn vir die ingang van die voorhof, wat rondom die tabernakel en die altaar is, sy toue en al die instrumente daarvan.

27. Vanuit K’hat het die familie van `Amram, die familie van Yitz’har, die familie van Hevron en die familie van `Uzi’el gekom. Dit is die families van K’hat.

28. Die getal van almal wat manlik is, van ’n maand oud en ouer, wat die diens van die Afgesonderde plek gedoen het, was agt duisend ses honderd (8 600).

29. Die families van die seuns van K’hat moet kamp opslaan langs die tabernakel, aan die suidekant.

30. Die leier oor die vaders van die families van K’hat se huis is Elitzafan, die seun van `Uzi’el.

31. Hulle verantwoordelikheid was: die ark, die tafel, die lampstaander, die altare en die bybehore van die Afgesonderde Plek, waarmee hulle diens doen en die verdelingsgordyn en alles wat by die bediening daarvan hoort.

32. El’azar, die seun van Aharon, die priester, was die hoof van die leiers van die Leviete, die opsigter oor dié wat die diens van die Afgesonderde plek doen.

33. Vanuit M’rari het die familie van Magli en die familie van Mushi gekom. Dit is die families van M’rari.

34. Die getal van almal wat manlik is, van ’n maand oud en ouer, was ses duisend twee honderd (6 200).

35. Die leier oor die vaders van die families van M’rari se huis is Tzuri’el, die seun van Avigayil; hulle moet kamp opslaan langs die tabernakel, aan die noordekant.

36. Die aangestelde verantwoordelikheid van die seuns van M’rari was oor die raamwerk van die tabernakel, sy balke, sy pilare, sy voetstukke en al die bybehore sowel as al die diens wat daarby hoort

37. en die pilare van die voorhof rondom, hulle voetstukke, hulle penne en hulle toue.

38. Die wat voor die tabernakel moet kamp opslaan, aan die oostekant, voor die Tent van Ontmoeting, waar die son opkom, moet Moshe en Aharon, met sy seuns wees, wat toesig hou oor die Afgesonderde plek en toesig hou oor die seuns van Yisra’el. Die vreemdeling wat naderkom, moet doodgemaak word.

Lees volledige hoofstuk Numeri 3