Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 20:1-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Die seuns van Yisra’el, die hele vergadering, het in die wildernis van Tzin gekom, in die eerste maand en die volk het in Kadesh gebly. Miryam het daar gesterf en is daar begrawe.

2. Daar was geen water vir die vergadering nie, hulle het dus teen Moshe en Aharon bymekaargekom.

3. Die volk het met Moshe argumenteer en hulle het gepraat en gesê: “As ons tog maar gesterf het toe ons broers voor die Teenwoordigheid van יהוה gesterf het!

4. Hoekom het julle die vergadering van יהוה in hierdie wildernis ingebring sodat ons en ons vee hier sou sterf?

5. Waarom het julle ons uit Mitzrayim laat optrek om ons in hierdie veragtelike plek te bring? Dit is geen plek om te saai nie, ook nie van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.”

6. Moshe en Aharon het van die vergadering af weggegaan na die ingang van die Tent van Ontmoeting en hulle het op hul gesigte geval en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het aan hulle verskyn.

7. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

8. “Vat die staf en laat die vergadering bymekaarkom, jy en jou broer Aharon. Praat met die rots voor hulle oë sodat dit water kan voortbring. So moet jy vir hulle water uit die rots laat kom en die vergadering en hulle vee laat drink.”

9. Moshe het die staf van voor die aangesig van יהוה gevat soos Hy hom beveel het.

10. Moshe en Aharon het die vergadering voor die rots laat bymekaarkom en hy het vir hulle gesê: “Luister nou, julle rebelle! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?”

11. Moshe het sy hand opgetel en die rots twee maal met sy staf geslaan, water het in oorvloed uitgekom en die vergadering en hulle vee het gedrink.

12. יהוה sê vir Moshe en Aharon: “Omdat julle My nie vertrou het om My as Afgesonderd voor die oë van die seuns van Yisra’el te behandel nie; daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.”

13. Hierdie was die waters van M’rivah, waar die seuns van Yisra’el met יהוה gestry het en Hy Hom tussen hulle as Afgesonderd bewys het.

14. Moshe het boodskappers uit Kadesh na die koning van Edom gestuur: “So sê jou broer Yisra’el: Jy weet van al die moeilikheid wat ons oorgekom het,

15. dat ons vaders na Mitzrayim afgegaan het en ons baie dae in Mitzrayim gebly het en die Mitzrayiete het ons en ons vaders sleg behandel

16. en toe ons uitgeroep het na יהוה, het Hy ons stem gehoor. Hy het ’n boodskapper gestuur en ons uit Mitzrayim uitgelei. Let op, ons is nou in Kadesh, ’n stad op die grens van jou grondgebied.

Lees volledige hoofstuk Numeri 20