Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 1:44-54 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

44. Hierdie is hulle wat getel is, wat Moshe en Aharon getel het saam met die leiers van Yisra’el, twaalf man, elkeen het sy vader se huis verteenwoordig.

45. So was dan al die geteldes van die seuns van Yisra’el volgens hulle vader se huise, van twintig jaar oud en ouer, almal wat in staat was om oorlog toe te gaan;

46. almal wat getel is, was ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig.

47. Die Leviete, volgens hulle vaders se stam, is nie saam met hulle getel nie,

48. want יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

49. “Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle nie per kop onder die seuns van Yisra’el tel nie,

50. maar stel die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy bybehore en oor alles wat daarby hoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby hoort en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel kamp opslaan.

51. Wanneer die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig en die vreemdeling wat naderkom, moet gedood word.

52. Die seuns van Yisra’el moet hulle tente opslaan, elkeen in sy eie kamp en elkeen by sy banier, volgens hulle leërafdelings,

53. maar die Leviete moet kamp opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis sodat daar geen toorn oor die vergadering van die seuns van Yisra’el kom nie en die Leviete moet in beheer wees van die tabernakel van die Getuienis.”

54. Die seuns van Yisra’el het dit so gedoen; net soos יהוה Moshe beveel het, so het hulle gedoen.

Lees volledige hoofstuk Numeri 1