Ou Testament

Nuwe Testament

Negemyah 9:5-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Die Leviete: Yeshua, Kadmi’el, Bani, Hashavn’yah, Sherevyah, Hodiyah, Sh’vanyah en P’tagyah het gesê: “Staan op en praat goed van יהוה, julle God, vir ewig en ewig en geseënd is U wonderlike Naam (Karakter en Outoriteit), wat verhewe is bo alle skepping en lofprysing!Ps 146:6-7; Open 10:6

6. U alleen is יהוה, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërmagte, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, gemaak en U hou dit alles in stand; die leërmag van die hemel val voor U neer.

7. U is יהוה, die God wat Avram gekies het en hom uit Ur van die Kasdeërs uitgebring het en sy naam verander het na Avraham;

8. wat sy verstand, wil en emosie suiwer voor U gevind het en ’n verbond met hom gesluit het om die land van die Kena’aniete, Hittiete, Emoriete, P’riziete, Y'vusiete en Girgashiete, aan hom te gee, om aan sy nageslag te gee en U het U woorde tot hom uitgevoer, want U is regverdig.

9. U het die benoudheid van ons vaders in Mitzrayim gesien en hulle uitroep by die Sufsee gehoor

10. en tekens en wonders gedoen aan Farao, al sy diensknegte en aan al die mense van die land, want U het geweet dat hulle verkeerd gedoen het teen U volk. So het U vir U ’n Naam gemaak, soos dit vandag is.

11. U het ’n pad voor hulle oopgemaak in die see sodat hulle op droë grond dwarsdeur die see getrek het en U het hulle vervolgers in die diepte van die see gegooi, soos ’n klip wat sink in die magtige waters.

12. Verder het U hulle ook gelei met ’n wolkpilaar bedags en met ’n vuurpilaar snags om vir hulle lig te gee op die pad waar hulle moes gaan.

13. U het ook afgekom op die berg Sinai en met hulle gepraat vanuit die hemel en aan hulle die regte oordele, wette van waarheid, goeie instellings en opdragte gegee.

Lees volledige hoofstuk Negemyah 9