Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:8-22 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

8. Hy het toe vir hom die borsplaat aangesit en die Urim en die Tumim in die borsplaat gesit.

9. Hy het ook die tulband op sy kop gesit en aan die tulband, aan die voorkant, die goue plaat, die afgesonderde kroon, gesit, soos יהוה Moshe beveel het.

10. Moshe het die salfolie gevat en die Tent van Ontmoeting en alles wat daarin was, gesalf en dit afgesonder.

11. Hy het sewe keer daarvan op die altaar gesprinkel, die altaar gesalf en al sy bybehore, met die kom en sy voetstuk, om dit af te sonder.

12. Hy het van die salfolie op die kop van Aharon gegooi en hom gesalf om hom af te sonder.

13. Moshe het volgende die seuns van Aharon laat naderkom en vir hulle die klede aangetrek, hulle gegord met ’n gordel en vir hulle die tulbande omgebind soos יהוה Moshe beveel het.

14. Hy het die bul van die sondoffer laat naderkom en Aharon en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul van die sondoffer gelê.

15. Toe het Moshe dit geslag en die bloed geneem en daarvan met sy vinger rondom aan die horings van die altaar gesmeer en die altaar gereinig. Hy het die orige bloed aan die onderkant van die altaar uitgegooi en dit afgesonder om toedekking daarvoor te doen.

16. Hy het al die vet wat aan die binnegoed was, die vetlap aan die lewer, die twee niere en hulle vet gevat en Moshe het dit op die altaar geoffer en in rook laat opgaan,

17. maar die bul, sy vel, sy vleis en sy mis het hy buitekant die kamp met vuur verbrand, soos יהוה Moshe beveel het.

18. Hy het die ram as brandoffer gebring en Aharon en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê.

19. Moshe het dit geslag en die bloed rondom teen die altaar gesprinkel.

20. Hy het die ram in sy stukke verdeel en Moshe het die kop, die stukke en die vet geoffer en in rook laat opgaan,

21. hy het die binnegoed en die pote met water gewas en Moshe het die hele ram op die altaar geoffer en in rook laat opgaan; dit was ’n brandoffer as aangename geur, ’n offer deur vuur tot יהוה, soos יהוה Moshe beveel het.

22. Toe het Hy die tweede ram, die ram van toewyding, gebring en Aharon, met sy seuns, het hulle hande op die kop van die ram gelê.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8