Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 42:22-38 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

22. Re’uven antwoord hulle en sê: “Het ek nie met julle gepraat en gesê: ‘Moenie sondig teen die seun nie,’ maar julle wou nie luister nie? Let op, daarom word sy bloed nou van ons geëis.”

23. Hulle het nie geweet dat Yosef hulle verstaan nie, want hy het met hulle deur ’n tolk gepraat.

24. Hy het van hulle af weggedraai en gehuil en hy het weer na hulle teruggegaan en met hulle gepraat. Hy het Shim’on onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë vasgebind.

25. Yosef het beveel dat hulle sakke vol graan gemaak moet word, elkeen se geld weer in sy sak terug gesit word en dat vir hulle padkos vir die reis saam gegee word. Dit het hy vir hulle gedoen.

26. Hulle het die graan op hulle donkies gelaai en weggegaan.

27. Toe een van hulle sy sak oopmaak om vir sy donkie voer te gee in die herberg, sien hy sy geld en let op, dit was in die bek van sy sak!

28. Hy sê vir sy broers: “My geld is aan my teruggegee en kyk, dit is in my sak!” Hulle emosie, wil en verstand het hul begewe en hulle was bevrees en sê vir mekaar: “Wat is dit wat God aan ons gedoen het?”

29. Hulle het by hul vader Ya’akov in die land Kena’an gekom en aan hom alles vertel wat met hulle gebeur het en gesê:

30. “Die man wat die meester van die land is, het ons hard aangespreek en ons as spioene teen die land aangesien,

31. maar ons het vir hom gesê: ‘Ons is eerlik, ons is nie spioene nie.

32. Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is nie meer nie en die jongste is vandag by ons vader in die land Kena’an.’

33. Die man, die meester van die land, het aan ons gesê: ‘Hieraan sal ek weet dat julle eerlik is; laat een van julle broers by my en vat kos vir die hongersnood van julle huise en gaan,

34. bring julle jongste broer na my toe; so sal ek weet dat julle nie spioene is nie. As julle eerlik is, sal ek julle broer aan julle teruggee en julle mag in die land handel dryf.’

35. Dit het gebeur dat, soos hulle hulle sakke leegmaak, let op, elke man se bondeltjie geld in sy sak was! Toe hulle en hul vader die bondeltjies geld sien, was hulle bevrees.

36. Ya’akov, hulle vader, sê vir hulle: “Julle het my kinderloos gemaak. Yosef is nie, Shim’on is nie en Binyamin wil julle wegvat! Al hierdie dinge is teen my!”

37. Re’uven praat met sy vader en sê: “Maak my twee seuns dood as ek hom nie na u toe terugbring nie. Vertrou hom toe aan my hande en ék sal hom na u toe terugbring.”

38. Hy sê egter: “My seun sal nie saam met julle afgaan nie, want sy broer is dood en hy het alleen oorgebly. As hy enige iets oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met smart laat afgaan na Sh’ol.

Lees volledige hoofstuk Genesis 42